RUSTENBURG HERALD - RUSTENBURG - Techni-Cool het in 1975 tot stand gekom as 'n vennootskap tussen Dave van As en Woody Wilson wat albei vanaf Durban as vriende en kollegas na Rustenburg verhuis het.
Van As en Wilson het hul bedrywighede in 'n beskeie garage in Rustenburg begin en betreklik kort daarna hul eerste vertoonlokaal en werkswinkel in Kotzestraat 2 in gebruik geneem - dit was in die area waar die Suid-Afrikaanse Inkomstediens vandag geleë is.
In daardie jare het die Suid-Afrikaanse lugversorgingsbedryf slegs drie opsies aangebied naamlik General Electric, Barlows en Westpoint - in skerp kontras met die ongeveer 108 verskillende eenhede wat vandag beskikbaar is.
In 1977 is Pierre du Toit vanaf Klerksdorp na Rustenburg gelok deur die lemoenbloeisels van die lemoenbedryf by Olifantsnek. Pierre het by Woody en Dave aangesluit as die eerste behoorlike gekwalifiseerde lugversorgings-tegnikus en het 'n gedugte skakel in die span geword. Gerugsteun deur stewige groei het Techni-Cool 'n nuwe perseel te Smitstraat 164 (vandag Thabo Mbeki Rylaan) Rustenburg in die sentrale sakegebied in gebruik geneem - hier is 'n vertoonlokaal en werkswinkel ingerig volgens die behoeftes en spesifikasies van die plaaslike mynbedryf - in daardie jare die grootste kliënt.
Ten spyte van die uitdagings van die eerste resessie in die 1970’s wat Dave van As genoop het om die bedryf te verlaat en Woody se ontydige afsterwe, het Pierre standvastig met die onderneming voortgegaan. Met die ondersteuning van sy eggenote (Elsie) en met die ervare Kitch Christy aan sy sy, het Pierre die goeie reputasie van Techni-Cool vir uitstekende diens en ondervinding in die Rustenburg-omgewing gestand gedoen.
Na die totstandkoming van die Bophuthatswana-regering het Techni-Cool die strategiese besluit geneem om in die middel 1980’s na Tlhabane te verhuis waar 'n groter perseel beskikbaar was waar Techni-Cool se dienste uitgebrei kon word. Hierdie stap het Techni-Cool onomwonde gevestig as leier in die plaaslike lugversorgingsbedryf. In 1995 het Techni-Cool sy hand aan die spysenieringsbedryf gewaag met die loodsing van Techni-Cool Catering/Spyseniering in Pleinstraat 146, die enigste onderneming in Rustenburg om spysenieringstoerusting se bekendste handelsmerke te versprei.
Techni-Cool se vennootskap met Airomatic Panasonic Suid-Afrika was 'n besondere mylpaal wat Techni-Cool as die alleenverskaffer van Japanese Panasonic-produkte in die omgewing wat die onderneming se posisie verstewig het. Met die opheffing van finansiële- en handelsanksies in die 1990’s, het Suid-Afrika skielik toegang tot talle internasionaal handelsmerke gehad, wat natuurlik die hertoetrede van bekende name soos Coca-Cola en Pepsi gesien het. Die lugversorgingsmark het aansienlik uitgebrei met die bekendstelling van Amerikaanse handelsname soos Carrier, McQuay en Trane asook Koreaanse handelsmerke soos Gold Star wat later as Lucky Gold bekend gestaan het en vandag nog as LG Electronics bekend is.
Die jaar 1997 het verskeie belangrike verwikkelinge gesien. Pierre se visie van groei het gelei tot die stigting van Air Contracts, 'n geslote korporasie wat deur sy seun, Jaco du Toit en Jan Pretorius gestig is. Steeds vanuit Pleinstraat 146 het Air Contracts op spysenieringstoerusting en lugversorgingseenhede buite die Panasonic-stal gefokus, terwyl Techni-Cool hom op die Panasonic-franchise toegespits het. Te midde van onrustoestande en uitdagings in Tlhabane, het Techni-Cool eiendom op die hoof-Pretoriapad in die "Falls-area" bekom en sy diens voortgesit.
In 1999 het Adri du Toit (nou Deysel) - dogter van Pierre en Elsie, by die Techni-Cool-bemarkingspan aangesluit. Sy het spoedig in die finansiële afdeling vooruitgang gemaak en het later deur harde werk en toewywing die maatskappy se finansiële direkteur geword. In 2000 het Pierre se droom van 'n samesmelting tussen Techni-Cool en Air Contracts uiteindelik gerealiseer. Laasgenoemde was die begin van 'n stewige familie-onderneming wat op toewyding en kundigheid geskoei was - 'n nuwe pa-en-seun-kombinasie onder die vaandel van Techni-Cool Air Contracts. In 2003 het Jaco amptelik die leisels oorgeneem en die maatskappy deur 'n klompie veranderinge in die bedryf gelei - 'n nuwe generasie het na vore getree in die vorm van Jaco, Adri en Marius.
In Augustus 2008 het Techni Cool-Air Contracts uitgebrei met 'n nuwe tak in Burgersfort, Limpopo met Pierre en Elsie wat tydelik teruggekeer het uit "aftrede" om te help. Ten spyte van 'n goeie begin is daar later weens die uitdagings van die resessie besluit om dié tak te sluit en op Rustenburg se behoeftes te fokus. Die jaar 2010 was nog 'n groot mylpaal vir Techni Cool-Air Contracts toe die maatskappy begin het om aandele in die maatskappy se BEE-trust (SEB-trust) te verkoop. Hierdie trust het 'n waardevolle bydrae gelwer ten opsigte van werknemersontwikkeling, kundigheid-oordrag en bestuursontwikkeling.
In sy vroëe dae het Air Contracts hoofsaaklik gefokus op projekte en ventilasie. Mettertyd het Techni Cool-Air Contracts getransformeer tot 'n nasionaal-erkende projekkontrakteursonderneming. Dienste soos ontwerp, verskaffing, installasie, onderhoud en soortgelyk het huishoudelik geword en die maatskappy het spoedig ook gespesialiseer in the Hospitaal HVAC- asook die "Inverter Technology VRF (Variable Refrigerant Flow)” bedryfsektore - geen taak of opdrag was meer te groot vir die span van TCAC nie.
Dekades van toewyding, voortdurende verbetering het ongekende sukses meegebring.
Vroeg in 2023 het Gerhard Jansen, neef van Jaco en Adri, by die Techni Cool-Air Contracts span aangesluit as tegniese direkteur. Jaco en Gerhard is vandag terdeë bewus van die uitdagings van die bedryf en glimlag dikwels oor hul "kinderdae-ervarings" in die veld soos toe hulle as jong kannetjies die meganika van lugversorgingseenhede/kompressors en so meer ondersoek het.
Vandag, vyf dekades later, floreer Techni Cool-Air Contracts steeds weens hul buitengewone dienste, eerlikheid, harde werk en toewyding tot kwaliteit. Wanneer nuwe uitdadings op die horison verskyn, is dit uiteindelik nie veel meer as net nog 'n leersame ondervinding nie. Die span erken en eer die bydrae van Pierre du Toit. “Aan ons vriende en familie - dankie dat julle in ons geglo het, ons sou dit nie sonder julle ondersteuning kon doen nie. Ons kyk vorentoe in erkentlikheid teenoor ons Hemelse Vader, en maak staat op Sy talle seëninge.
“Op die vooraand van Techni Cool-Air Contracts se halfpadmerk op pad na ons "eeuwording" staan ons nalatenskap sterk en gesond, gebou deur vertroue en innovasie en gerugsteun deur sterk familiewaardes. Die volgende hoofstuk in ons geskiedenis beloof selfs groter sukses en baan die weg vir die toekoms oor generasies heen. Ons is trots op ons 50 jaar-mylpaal en hoop om nog lank van diens te wees.”