RUSTENBURG HERALD - RUSTENBURG - Verlede week is twee afleggingskennisgewings, wat meer as 'n duisend werke in gedrang laat, uitgereik deur Glencore Operations South Africa. Die twee artikel 189-kennisgewings is geldig by die Rhovan-myn en nog een by die maatskappy se hoofkantoor. Volgens die maatskappy is die redes vir die voorgenome afleggings die volgehoue swak marktoestande, internasionale oorproduksie en aanhoudende lae kommoditeitspryse, tesame met SuidAfrika se eie strukturele krisisse soos hoë elektrisiteitskoste, koolstofbelasting, en 'n spoorwegstelsel wat eenvoudig nie meer funksioneer nie.
Riaan Visser, adjunkhoofsekretaris van Solidariteit se mynbou-, landbou- en chemiese sektor, meen: "Glencore se besluit om Rhovan se ferrovanadiumproduksie te beëindig en die Alloyshoofkantoor se ondersteuningsdienste te herstruktureer, gaan honderde gesinne sonder brood op die tafel laat." "Wat ons hier sien, is dat werkers die prys betaal vir die regering se beleidsfoute en Eskom se tariefontploffing wat die hele bedryf onmededingend teenoor ander lande gemaak het." Solidariteit sal die konsultasieprosesse onder toesig van die Kommissie vir Versoening, Bemiddeling en Arbitrasie (KVBA) bywoon en lede bystaan met volledige regs- en arbeidsregondersteuning. "Ons gaan alle alternatiewe ondersoek om werksverliese te beperk en te verseker dat, waar poste wel gesny word, werknemers regverdig en ordentlik behandel word. Daar lê nog 'n donker tyd voor. Sonder dringende verbeterings aan regeringsbeleid en infrastruktuur, gaan duisende verdere poste regoor die land verlore gaan," waarsku Visser. Hierdie jongste kennisgewings volg kort ná die nuus oor ander Glencorebedrywighede wat reeds onder druk verkeer. Vir Visser is dit duidelik dat die voortbestaan van die sektor op 'n mespunt is, en die regering se versuim om 'n mededingende bedryfsklimaat te skep, tienduisende SuidAfrikaanse gesinne se toekoms op die spel plaas. Willie Venter, adjunkhoofsekretaris van Solidariteit, sê dat Glencore se aankondiging die totale getal poste wat van kant gemaak gaan word, op amper 6 000 te staan bring. Dit volg na mediaberigte dat ArcelorMittal Suid-Afrika massa-afleggings van meer as 4 000 poste beoog. Ook het Ford Suid-Afrika verlede maand afleggings aangekondig. "Die toedrag van sake by Glencore is 'n direkte gevolg van die regering se onbevoegdheid en versuim om die bedryf se uitdagings die hoof te bied," meen Venter. Solidariteit is van mening dat staatsverval nie net individue raak nie, maar hele bedrywe vernietig. "Ons sal alles moontlik doen om werksverliese te beperk, maar die groter prentjie is dat tienduisende poste in SuidAfrika in gevaar is. 'n Bloedbad van afleggings het gerealiseer."