RUSTENBURG HERALD - RUSTENBURG - Terwyl die meeste opgaardamme in Noordwes en in die grootste gedeeltes van die land tot oorlopens toe vol is en met boere wat veral in die Limpopo-provinsie groot verliese weens ongekende vloede gely het, is dit vir niemand nuus dat die land die afgelope twee tot drie maande aansienlik meer as die "normale" hoeveelheid reënval gekry het nie.
Met Januarie 2025 wat nie juis 'n sopnat maand was nie, het dit gelyk of Suid-Afrika se weerpatrone veral wat reënval betref besig is om af te neem. Die reënsyfers van die tweede en derde maand van vanjaar het egter spoedig gewys dat ons reën nog lank nie verby is nie.
Terwyl slegs 47.6 mm in Februarie 2024 gemeet is, is 'n baie goeie 328.4 mm vir Februarie 2025 gemeet. Hierna het 'n skerp toename in reënval ook gelei tot 'n merkwaardige verskil in die syfers van Maart 2024 teenoor Maart 2025. Trouens, in 'n rapsie meer as die helfte van Maart 2025 (20 Maart 2025) het Charlie Graham by Geelhout Gardens Kwekery reeds 91.2 mm in sy reënvalboeke aangeteken. Dit is bykans tien keer soveel as die baie "beskeie" 10 mm wat vir die hele maand in Maart 2024 in Rustenburg gemeet is.
Tans is ons weerpatrone besig om hulself stewig in die herfsseisoen in te grawe en sal reënval stellig oor die volgende maand of wat afneem in "voorbereiding" op die winter van 2025.
Rustenburgers sal egter wys wees om nie nou al die reënmeters weg te pak nie - Rustenburg is nie geheel en al onbekend met winterreënval nie en wie weet, ons sal dalk nog baie riviere in vloed sien voor die winter van vanjaar iets van die verlede is.