RUSTENBURG HERALD - RUSTENBURG - ‘n Driejarige blondekop-dogtertjie van Rustenburg sal waarskynlik vir die res van haar lewe met letsels en tekens van bytwonde aan haar gesiggie moet vrede maak - om nie van lewenslange trauma te praat nie - nadat sy Sondagmiddag in die teenwoordigheid van haar mammie wreedaardig deur drie tot vier Duitse herdershonde in opdrag van hul baas aageval is.
Die man - glo die eienaar van ‘n privaat-sekuriteitsmaatskappy - het blykbaar Sondagmiddag omstreeks 15:00 met sy bakkie met sekuriteitshonde agter op die voertuig langs die R24 stilgehou waar die dogtertjie en haar mammie te voet na die KFC Waterfall Mall onderweg was om vir die kind roomys te gaan koop.
Die honde is van die bakkie af beveel en aangehits om die kind en haar mammie aan te val omdat die honde se baas daarvan oortuig was dat die dogtertjie se ma en haar vriend glo by voorvalle van diefstal in die omgewing van die Cynthiana Hotel verantwoordelik was. “Die honde is blykbaar met “vat hulle, sa!” en “lekker-lekker” aangehits.
In die proses het die ma (Patricia Hale) lelike bytwonde aan haar bo-arm opgedoen en van haar senings en spiere is glo geskeur toe sy met die dogtertjie in haar arms deur die honde aangeval en uiteindelik omgespring is. Daarna het die honde ook die dogtertjie toegetakel en sy het onder meer ‘n grusame winkelhaak-skeur aan haar regterwang opgedoen.
‘n Onbekende Tswanasprekende man was glo ook op die toneel en het in ‘n stadium tussenbeide getree en probeer om die honde te verwilder en die dogtertjie te beskerm. Hy is egter met kru taal en rassistiese aanmerkings deur die sekuriteitseienaar se metgesel gevloek.
‘n Bekende weldoener van Rustenburg - Elsa Doubell - was onder die eerste mense wat op die toneel by die beseerde ma en dogtertjie stilgehou het. Sy het sonder om te twyfel haar eie gesinslede uit haar voertuig laat klim en hulle net daar langs die R24 gelos om met Patricia en haar dogtertjie na die Life Peglerae-hospitaal te jaag waar hulle wonde geheg is en hulle vir pyn en skok behandel is. Sy het sommer so in die ry ander familie geskakel om haar passasiers langs die pad te kom oplaai.
Die twee is dieselfde dag nog na die JST-hospitaal in Rustenburg oorgeplaas waar Patricia Sondagaand ‘n operasie ondergaan waartydens weefsel aan haar arm geheg en sny- en bytwonde behandel is.
Weens die ernstige aard van die dogtertjie se gesigbeserings is sy intussen na die Dr George Mukhari Akademiese Hospitaal in Ga-Rankuwa oorgeplaas waar sy Dinsdagoggend plastiese chirurgie ondergaan het om die wonde aan haar gesiggie te herstel.
Skaars ‘n uur of wat na die voorval het Rustenburgers sosiale media-forums oorval om die voorval sonder doekies omdraai in die ernstigste terme moontlik te veroordeel. Die eienaar van die sekuriteitsonderneming en die vrou by hom is onder meer as monsters uitgekryt. Gerugte het sedertdien die ronde gedoen dat die sekuriteitseienaar Dinsdagoggend gearresteer is. Die Rustenburgse polisie het intussen egter nog nie op ons navrae reageer of die arrestasie bevestig nie.
Die enigste stukkie goeie nuus vir die dogtertjie en haar ma benewens die feit dat hulle die aanval oorleef het, is dat ‘n bekende plaaslike prokureur Sondagmiddag met die kind se aankoms by die hospitaal toevallig op die toneel was en sy dienste aangebied om die familie gratis te verteenwoordig in ‘n hofgeding wat ongetwyfeld later sou volg.