RUSTENBURG HERALD - RUSTENBURG - Na ‘n versengende hittegolf van nagenoeg vier weke wat in stadiums gevoel het of dit nooit weer gaan afkoel nie, het die hemelse sluise teen middel Desember uiteindelik oopgebars en Rustenburg asook groot gedeeltes van die SA-binneland kry reeds etlike weke lank bykans elke dag ‘n bui of twee heerlike reën.
Nadat dit vroeg in Desember gelyk het asof dit nooit weer gaan reën nie, het ons tans groot rede om fees te vier - veral die boeregemeenskap is verheug - hoewel boere nou al vir meer as twee weke spreekwoordelik “nie in die lande kan kom” om te ploeg en plant nie.
Na ‘n swakkerige begin vroeg in Desember het die 12de maand toe inderdaad in ‘n uitstekende reënmaand ontaard met uiteindelik aansienlik beter neerslae as in Desember 2023. Volgens Charlie Graham (Rustenburg Herald se “weerkundige” - iemand wat die natuur en sy gebeure geesdriftig en toegewyd dophou) is nie minder nie as 183.5 mm vir Desember 2024 gemeet. Dit vergelyk sommer baie goed met die reënsyfer van die vorige jaar toe daar slegs 134 mm in Desember 2023 gemeet is.
Hier by Rustenburg Herald het ons deeglik en met groot verwagting kennis geneem van die SA Weerdiens se voorspellings dat die La Nina-weerverskynsel (die teenoorgestelde van El Nino wat droogte beteken) in Januarie 2025 dramaties sou verstewig en tot in hierdie stadium lyk dit of die amptelike weerkundiges beslis nie die kat aan die stert beetgehad het nie.
Volgens Charlie Graham van die bekende Geelhout Gardens-kwekery net duskant die Kremetartlaan-laagwaterbruggie was daar tot 08:00 op Dinsdag, 7 Januarie, reeds ‘n goeie 81.6 mm se reën in die sakkie - ‘n syfer wat waarskynlik aansienlik sou toeneem omdat deurdringende neerslae veral Dinsdagoggend nog in volle swang was.
In die Swartruggens-omgewing het mnr Dawie Vorster van Swartruggensdam laat weet dat hoewel die dam se watervlak na die naweek nog meer steeds baie laag was, die prentjie sedert Maandag dramaties verander het en dat die Swartruggensdam indien goeie invloei van water uit die Elandsrivier sou volhou - moontlik nog teen Dinsdagaand baie naby aan 100% vol sou wees.
Dit volg op etlike berigte van uitstekende neerslae in die Swartruggens-omgewing oor die afgelope vakansieperiode. Een inwoner van Swartuggens het laat weet dat hulle byvoorbeeld reeds 166 mm sedert die begin van Janaurie gemeet het.
Rustenburg Herald sien met groot verwagting uit na die Departement van Water en Sanitasie se weeklikse stand van damme waarvan ons die eerste vir die nuwe jaar op Maandag, 13 Januarie, ontvang. Hou gerus Rustenburg Herald se uitgawe van volgende week dop - dit kan dalk vir boere ‘n aanduiding gee van hoeveel sakke saad met vrymoedigheid by die koôperasie aangekoop kan word, skerts Waldie Volschenk van ons redaksie.