RUSTENBURG HERALD - RUSTENBURG - Bernice West, 'n oud-inwoner van Swartruggens en oud-leerder van Hoërskool Rustenburg het op Saterdag, 5 Julie, Suid-Afrikaners, Rustenburgers en Swartruggensmense trots gemaak toe sy die eer gehad het om die nasionale volkslied oomblikke voor die afskop van die eerste toets tussen die Springbokke en Italië op Loftus Versveld te sing.
Rugbykykers en -luisteraars van oraloor het laat weet dat Bernice die Bokke, Suid-Afrika en die Noordwes-provinsie trotse mense gemaak het. "Sy was eenvoudig briljant" - was van die kommentaar wat Rustenburg Herald gehoor het.
Bernice sê as 18-jarige oud-Rustie sou sy nooit kon dink dat haar lewe, ses jaar later, só sou uitdraai nie. Hierdie was boonop die tweede keer dat Bernice gevra is om die volkslied voor die afskop van 'n Springbokwedstryd te sing. Die eerste keer was aan die einde van haar matriekjaar, toevallig ook op Loftus Versveld. Bernice sê sy sou nooit kon dink dat sulke groot dinge nog vir haar voorlê nie. Gewis hoendervleisoomblikke, het Bernice na die tyd gesê. Die Bokke het Saterdag se toets teen Italië met 42 - 24 gewen.