Fields marked with an asterisk (*) are required.
Name *
Username *
Password *
Verify password *
Email *
Verify email *

Community News
Typography
  • Smaller Small Medium Big Bigger
  • Default Helvetica Segoe Georgia Times

7 November 2025

Deur Salomé Kotzé

Klerksdorp Rekord, Klerksdorp - ‘n Storm het losgebars rondom die kop van ‘n finansiële assistent by ‘n aftree-oord wat haarself gehelp het aan derduisende rande wat aan ‘n inwoner behoort het. Vrae het ontstaan toe die inwoner te sterwe kom.

Louise Hills is selfs as ‘n erfgenaam in wyle Joey Fourie se boedel benoem. Sy het egter afstand gedoen van die erfporsie van ongeveer R200 000 nadat familielede bankstate begin nagaan en sien dat sy reeds vir maande al haarself aan “tannie Joey’’ se geld gehelp het. 

 

“Ons kon dit nie glo nie. Tannie Joey het in die frail care by Panorama Park gelê terwyl sy baie siek was en sy het volmag geteken sodat Louise haar finansies kon hanteer, want sy was nie meer in staat om dit self te doen nie. Eers na ons tannie se dood het ons gehoor Louise is sommer ‘n begunstigde in die testament. Dit het ons laat wonder oor wanneer die testament dan skielik verander is, as sy so sieklik was,’’ vertel Drienie Mayo uit Skotland. Joey is haar ma se suster en het voor haar afsterwe saam gewoon in Panorama Park. “Ons dogters het geweet my ma is tannie Joey se enigste erfgenaam, want sy het niemand anders gehad nie.’’

Die eksekuteur van die boedel het bevestig dat Joey se testament agt maande voor haar dood op 1 Februarie, verander is terwyl sy ‘n verswakte bejaarde in sorg by Panorama Park was. Die lees van die testament was ‘n skok vir die familie. “Ek glo nie eers tannie Joey was in staat om haar testament te verander nie. Ek was twee weke voor daar aan die testament verander is, in Klerksdorp by hulle vir my ma se verjaardag, en niemand het iets gepraat daarvan nie. So dit was vir my baie vreemd,’’ sê Drienie.

Toe het die sussies begin krap. “Ons het gevind dat oor ‘n tydperk van ‘n jaar is meer as R130 000 uit tannie Joey se rekening onttrek, hetsy kontantontrekkings of vir aankope van kruideniers, restaurant, klerewinkels, selfs vir herstelwerk aan ‘n exhaust,’’ sê Erika Janse van Rensburg, Joey se susterskind wat in Nieu-Seeland woon. Hul ander suster, Petro Rautenbach, woon op Orkney en besoek hul ma wat nog in Panorama Park woon, gereeld. Sy het Joey ook besoek en nooit agtergekom alles met haar tante se geldsake is nie pluis nie.

“Ek verstaan Louise het volmag gehad op my tannie se bankrekening, maar dit het nie beteken dis haar persoonlike beursie nie. Dit is nie haar geld nie, en kom neer op diefstal. Ons het haar gekonfronteer, maar sy beskuldig ons van teistering en maak of sy niks verkeerd gedoen het nie. Sy is half verbaas oor ons ergenis met haar optrede. Sy sê sy het tannie Joey se toestemming gehad. Nou, ons ken ons tannie Joey en sy was nie spandabelrig nie. Inteendeel, sy het haar sente omgedraai. Daar is nie ‘n manier dat sy vir haar die geld sou gee nie,’’ sê Drienie.

Intussen het die familie deur die eksekuteur van Joey se boedel vir Louise sover gekry om afstand te doen van die erfporsie wat sy wel gedoen het. Maar dit is nie genoeg nie. Die familie dagvaar nou vir Louise én Panorama Park, en eis dat die geld wat die finansiële beampte gebruik het, aan die boedel terugbetaal word. Die bedrag kom neer op R133 306,97.

“Ons kan ‘n kriminele saak maak, want dit is diefstal, maar sien nie kans vir die uitgerekte regstelsel in Suid-Afrika nie. Ons wil egter ander mense waarsku oor hierdie optrede by die aftree-oord. Dit is onaanvaarbaar en ek hoop nie nog bejaardes word so uitgebuit vir finansiële gewin nie,’’ sê Drienie.

Klerksdorp Rekord het Ronel Engelbrecht, bestuurder van Panorama Park, om kommentaar genader. “Louise is ‘n finansiële assistent en hanteer ons finansies. Panorama Park het niks met die saak te doen nie, dit is haar privaatsake.’’ 

Sy het bevestig dat personeel nie ontmoedig word om inwoners se finansies te hanteer nie. “Louise het volmag gekry, enigeen kan volmag kry by ‘n persoon.’’ Sy het toe die oproep beëindig.

Louise het aan Klerksdorp Rekord gesê die hele aangeleentheid is geskik en afgehandel. “Alles wat ek gedoen het was in terme van n skriftelike algemene volmag en enige dispuut tussen die partye oor die wyse waarop ek die volmag uitgeoefen het, is reeds tussen die partye geskik en afgehandel,” het sy by monde van haar prokureur laat weet.

Die familie is nie tevrede nie. “Ons ma en tannie Joey het vir jare saamgebly in Panorama Park met geen probleme nie. Ons is teleurgesteld in hoe Panorama Park hierdie hele aangeleentheid hanteer en gaan voort met die regsgeding. Ons het daarop aangedring dat Louise afstand doen van die erfporsie, maar ons het niks geteken dat dit haar vryskeld van die diefstal nie,’’ het Drienie gesê.