Fields marked with an asterisk (*) are required.
Name *
Username *
Password *
Verify password *
Email *
Verify email *

Community News
Typography
  • Smaller Small Medium Big Bigger
  • Default Helvetica Segoe Georgia Times

25 September 2025

Klerksdorp Rekord, Klerksdorp - Nagenoeg 70 mense het die boekbekendstelling van Forever Yours by From Shack to Sanctuary bygewoon. En bykans elke gas het ‘n boek gekoop.

Sestig van Sam-Annique Lowry se debuutboek is tydens die bekendstelling op Donderdag 4 September verkoop. Haar pa, Ferdie Swanepoel, sakeman en skrywer, het sy dogter gepols oor hoe die boek ontstaan het en sy het vertel hoe die boek in haar begin broei het na die verlies aan haar skoolliefde wat tydens hul rekordeksamen in 2012 oorlede is. 

Sy het deur haar seer gewerk deur woorde op papier te sit.

Na jare se sukkel om aan te beweeg, het sy weer besluit om verhoudings aan te pak. Sy moes kies om op te hou lief wees vir haar skoolliefde en die lewe weer ’n kans te gee. Toe sy haar trouman, Dean, ontmoet, het sy besluit om voluit te probeer. Dit was die geboorte van haar reëls. Sy het op 10 reëls besluit en sê dit gaan van persoon tot persoon verskil. 

Een van haar reëls is: In love is a feeling; love is a choice.

Met hul troue in 2017 het sy uiteindelik haar gelukkige einde vir haar boek gekry. Die boek was altyd in haar lewe maar vrouwees en mawees het haar besig gehou. In 2020 het Sam-Annique en Ferdie saam met Stefaans Coetzee gehelp om die Sanctuary Boekefees op die been te bring. Die fees is nou die Klerksdorp Boekefees. Die fees is ook verantwoordelik vir die Sanctuary Slypskool, wat daarop gemik is om nuwe stemme te ontwikkel. 

Die Desmond Tutu-Gerrit Brandpryswenner 2024, Sandy Schoeman, kom uit die slypskool. Asook Petro Kotze-Odendaal. Kotze-Odendaal se boek, Wanneer die krieke stil word, was onder Maroela Media se toptien beste memoires in die afgelope 100 jaar. Forever yours is die derde produk van die slypskool.

Sam-Annique het ‘n spesiale woord van dankie gehad vir Stefaans wat net soos vir Sandy en Petro, haar mentor was met die boek. Forever Yours is die eerste in ‘n reeks boeke en is te koop by Bargain Books of die koffiewinkel by From Shack to Sanctuary.

* Dit is die week nasionale boekeweek.

Klerksdorp Boekefees

Klerksdorp Boekefees is van 2020 af ‘n instelling in Klerksdorp. Weens feeste soos Aardklop en die Woordfees op Stellenbosch wat nou ook in Oktober gehou word, is daar besluit om die Klerksdorp Boekefees na vroeg volgende jaar te skuif. Die fees is aanvanklik vir die naweek van 24 Oktober beplan. 

Bekendes soos Marita van der Vyver, Hykie Berg, Roelien Strauss en Chris Karsten het al die Klerksdorp Boekefees bygewoon en dit het gou ‘n hoogtepunt op die jaar se kalender geword.

Organiseerder Stefaans Coetzee het gesê dit was ‘n moeilike besluit, maar met al die groot feeste waarmee Klerksdorp moet meeding, is besluit op ‘n nuwe datum. “Ons speel al ‘n geruime tyd met die idee om die datum te skuif, weens ‘n bedrywige boekkalender in September en Oktober. Hou die Klerksdorp Rekord dop vir ons nuwe datum.’’

Dit beteken egter nie alles is verlore nie. Die Boekefees is verantwoordelik vir saamskryf-projekte soos Op pad na Grysberg en Sewe keer sondig. Op pad na Grysberg is ’n roman waarin 22 skrywers elkeen ’n hoofstuk geskryf het. Twee-twee skrywers het saam aan een enkele kortverhaal vir Sewe keer sondig geskryf. 

Die fees se nuutste projek verskyn eersdaags. Dit is vier boeke in vier genres (Romanza, jeug, riller en krimi) deur vier gesoute skrywers (Felicia Snyman, Sunel Combrink, Christelle Wessels en Stefaans Coetzee), maar indien die vier boeke agtereenvolgend gelees word, vorm dit een storie. Die eerste boek, Hartslag, verskyn in September; die ander drie volg dan maandeliks.

Klerksdorp Boekefees se Afrikaans 100-bundel met kortverhale, foto’s en gedigte van plaaslike inhoudskeppers sal steeds in Oktober bekendgestel word. “Ons het ‘n besige jaar gehad met die Afrikaans 100-viering en is opgewonde om ons boekefees bundel met lesers te deel.’’

* Lees binnekort meer daaroor in die plaaslike media.