Klerksdorp Rekord, Klerksdorp - Hulle word Teddietannies genoem. Dit is die vroue wat deel is van die Bidbeertjie-beweging en teddiebere brei of hekel wat aan mense uitgedeel word met die belofte dat daar iemand is wat vir hom/haar bid.
Mariaan Ernst het al op hou tel hoeveel bidbere sy al gebrei het. Die gogga het haar in 2022 gebyt toe twee vriendinne, Alice Smith van Hartbeesfontein en Alta Slabbert van Klerksdorp, haar besoek en wol, breinaalde en ‘n patroon vir ‘n bidbeertjie in die hand stop.
Mariaan was aan die herstel na ‘n heup- en knievervanging en sy moes haar hande besig hou. “Ek het nog nie opgehou brei nie,’’ lag Mariaan. Sy het die afgelope Kersfees 20 bidbere vir kinders op hul plaas buite Klerksdorp uitgedeel. “Elke beer is met ‘n spesifieke kind in gedagte gebrei en voor gebid. Dit was so spesiaal, want ek ken die kinders so goed, dit was vir my ‘n voorreg.’’
Mariaan se kleinkinders het ook almal hul eie bidbere, en veral klein Wilrich Ernst is versot op syne. Op Klerksdorp Rekord se Facebook-bladsy is ‘n video waarin hy oor sy bidbeer, Joey gesels. Die bere is nie net vir kinders nie, maar word ook uitgedeel aan bejaardes, slagoffers van geweld, eintlik “enige iemand kan gebless word met ‘n bidbeertjie’’.
Vir Mariaan is dit haar manier van bediening van die Woord van God. Sy vertel dat sy so twee dae neem om ‘n beer van begin tot einde klaar te brei. In die tyd luister sy na geestelike musiek en bid die heeltyd vir die ontvanger.
Die Bidbeertjie-beweging het begin by An Roets van Malmesbury en vroue of Teddietannies wat daarby ingeskakel is, versprei bere dwarsoor die wêreld. Om meer daaroor te lees, inligting te kry, gaan na www.bidbeertjie.co.za