Klerksdorp Rekord, Klerksdorp - Vic en Bets van Dyk het verlede maand hul 61ste troudag gevier.
Die egpaar het as 21-jariges ewige trou aan mekaar gesweer op 14 Desember 1963. Albei is lief vir dans en het in 1961 op ‘n dansbaan op Stormsveil, Weskaap ontmoet.
Die egpaar se lewe het verskeie draaie geloop voor hulle hul in Klerksdorp gevestig het. Vic vertel hy het op Worcester op die Spoorweë begin, is toe verplaas na Fairbrees en toe na Dundee en toe besluit hy op ‘n nuwe lewe op die myne in Westonaria, en toe Welkom waar hy afgetree het.
Die egpaar bly tans by hul dogter. “Daar was gelukkige dae, hartseer en vreugdevolle dae… waar my vrou my deur dik en dun bygestaan het,” sê Vic.
Vic hou van dans, kaart speel en kyk graag TV, terwyl sy vrou graag bak.
Hulle is geseën met drie dogters en ‘n seun, waarvan twee dogters nog leef. Hulle spog ook met vyf kleinkinders en vier agterkleinkinders.