Klerksdorp Rekord, Klerksdorp - Gail Stoop het vier dekades van haar lewe aan KHS en duisende kinders gewy. Sy het einde 2024 afgetree, en uitgesien na ‘n rustige aftrede, maar is kort daarna met kanker gediagnoseer.
Gail is op Maandag 17 November oorlede. Sy was 62 jaar oud.
Die skool het in ‘n hartseer huldeblyk op sosiale media gesê “haar lag wat die stiltes opgebreek het, haar kalmte wat spanning laat sak het, haar kundigheid, sagtheid en menswees” sal gemis word.
Sy was die vakhoof vir Engels by die skool en het die taal vir 39 jaar aangebied.
Haar man, Hennie, het grappenderwys vir Klerksdorp Rekord gesê hy was haar moeilikste leerling. Haar afsterwe is vir hom moeilik. “Ons wou met ons karavaan gaan toer het, maar toe word sy siek. Die dokters het ‘n gewas by haar maag opgespoor en sy het met chemo begin. Ons kon niks van ons groot planne wat ons na haar aftrede wou doen, uitvoer nie,” vertel hy.
Gail het in Krugersdorp grootgeword en het aan die Hoërskool Monument gematrikuleer en toe by die destydse RAU studeer.
“Ek was in die Weermag toe ‘n vriend ons aan mekaar voorgestel het. Ons het dadelik gekliek en was 45 jaar getroud,” sê Hennie.
Die egpaar het twee seuns en vyf kleinkinders en die onderwys speel ‘n groot rol in die gesin. Albei seuns is betrokke by skole (KHS en Laerskool Goudkop onderskeidelik) en hul skoondogter is ‘n onderwyser by Laerskool Roosheuwel.
Haar lewensviering vind om 14:00 by die Herlewingsentrum, Connielaan, Adamayview plaas. “Die kinders wil hê almal moet iets kleurvol aantrek. Hulle wil dit ‘n viering van haar lewe maak,” sê Hennie.










