Klerksdorp Rekord, Klerksdorp - Die bekende sanger Ricus Nel is bekend daarvoor dat hy bykans enige musiekinstrument kan speel.
Hy het op Saterdag 14 September by die Portugese Saal opgetree en dit was ‘n heerlike opskop! Hy het sy treffers gesing soos Boerepompie, Hardekole en Ploeg jy en met kitaar en soms die konsertina die voete laat jeuk, met heelwat gaste wat gelangarm en gesokkie het.
Aan die einde van sy vertoning het hy vir Angelique Kleynhans, organiseerder van die vertoning, na die verhoog geroep om saam met hom op te tree.
Hy op die kitaar en sy op die konsertina! Wat ‘n verrassing om haar te sien die krismiswurm kielie. “Ek is maar skaam en hou nie van die kollig nie. My man het vir Ricus gesê ek kan konsertina speel en ons het glad nie geoefen nie, so ek is lekker in die diepkant ingegooi.
“Ons het die kalfiewals gespeel en die mense het dit so geniet. Ricus het gesê ons moet oefen en meer saamspeel. My konsertina het gelê en stof opgaar. Ek sal hom moet afstof,” lag sy.
Angelique het op laerskool begin speel en was in Laerskool Goudkop se boere-orkes. “Ek was eers kwaad vir my man, want dit was ‘n groot verrassing en ek was so senuweeagtig. Hy sê darem dit het goed geklink en die applous was wonderlik. Mense het met my kom praat en gesê hulle het nie geweet ek kan speel nie,” sê sy.
* Kyk op Klerksdorp Record se Facebookbladsy vir ‘n video van Angelique saam met Ricus op die verhoog.