Fields marked with an asterisk (*) are required.
Name *
Username *
Password *
Verify password *
Email *
Verify email *

Community News
Typography
  • Smaller Small Medium Big Bigger
  • Default Helvetica Segoe Georgia Times

Deur Danie Jacobs

Klerksdorp Rekord, Klerksdorp - Wat doen jy as jy hoor jy moet jou huis ontruim? Hoe lank het jy? Wat vat jy en wat los jy? En hoe voel dit om weg te loop terwyl jy weet binne ‘n paar uur sal duisende liters modderige water deur jou huis stroom?

Klerksdorp Rekord het met Arthur Keefe gepraat. Hy is ‘n bestuurslid van die Gliding Club, langs die Vaalrivier, en woon bykans 55 jaar langs die rivier. In die tyd het hy al verskeie kere sy eiendom ontruim weens vloedwater. “Dit is verskriklik traumaties. En dit raak nie beter nie, maar dis iets wat ons mee moet saamleef. As jy so naby aan ‘n groot rivier bly, is daar altyd daardie moontlikheid. Dit maak dit net nooit makliker nie. Soms werk die weer teen ons, soos nou met al die buitengewone reënval. Ons het al gevalle gehad met 14 sluise by die Vaaldam wat oop was en ons hoef nie te ontruim het nie,” vertel hy.

 

 

Vanjaar sal in Klerksdorp se geskiedenis bekendstaan as ‘n jaar van die baie reën. Dit is volgens inwoners wat die vloed van 1976 beleef het, die meeste reën wat nog hier geval het met syfers wat wissel tussen 900 en 1 000 mm sedert Januarie. Klerksdorp se gemiddelde reënval is 633 mm per jaar.

“Ek is gelukkig, want my huis is die verste van die water af en dit is nog nie vir my nodig om die keer te ontruim nie. As nog ‘n sluis oopmaak, sal ek seker moet,” sê Keefe. 


“As die boodskap kom om te ontruim, voel dit asof jou hart in jou skoene gaan sit. Dit is erg, want sommige mense het nêrens om heen te gaan nie. As jy nog ‘n huis het in die dorp of iewers, kan jy soontoe gaan. Tans stoor mense wat ontruim het, al hul meubels in ons saal. Die mense wat hier bly is soos een groot familie, want almal help mekaar. Dit is goed om te sien, want die ou mense het baie hulp nodig.” 

Hy vertel dat jy ongeveer 40 uur het om te ontruim voor die water hier kom as ‘n sluis oopgemaak word. “Jy red maar jou elektriese toestelle. Duur goed soos yskaste, TV’s en lugversorgers. As jy genoeg tyd het, kan jy jou hele huis leegmaak en dan moet jy jou vensters en deure ooplos om die water in te laat of al jou vensters breek. Sit jou krag af, stap weg en dan moet gebeur wat moet gebeur. Dit is ‘n aaklige gevoel, want jy is weerloos teen die natuur. Jy weet ook nooit wat jy gaan kry as die water weer gesak het nie en dan begin die groot skoonmaak. Dit is net ‘n nagmerrie,” vertel hy.

Wie blameer jy? “Dit toets ‘n mens se geloof, maar dit help nie om teen God te baklei nie. Ek blameer die bestuur van die Vaaldam, want hulle wag te lank voor hulle begin sluise oopmaak. Hulle moet al begin as die dam 90% vol is. Hulle wag te laat en dan word alles stroom-af oorstroom.”

Lizette Havenga, eienaar van B Gallery, en haar gesin het hul naweekhuis langs die Vaalrivier die afgelope naweek ontruim. “Ons het dit twee jaar gelede ook gedoen en elke keer huil ek my oë uit. Dit is so mooi langs die rivier, maar dit is ‘n realiteit. Ek dink aan diegene wat voltyds daar bly, want waarheen gaan jy. Om daar weg te ry nadat jy die krag en water afgesit het, is ‘n baie hartseer gevoel om nie eens te praat van die finansiële impak nie.”

Sy vertel hulle het ‘n 12-sitplek houttafel met die vorige ontruiming in die huis gelos, omdat hy so swaar is en was so verbaas toe hulle agterkom die tafel dryf teen die dak. Dit is die krag van water.

Teen druktyd op Woensdag 9 April was vyf sluise oop by die Vaaldam.