Klerksdorp Rekord, Klerksdorp - Die VF Plus het sy stem gevoeg by die debakel oor die Matlosana Munisipaliteit se water-en-ligte rekeninge en dring daarop aan dat die probleme reggestel word.
Volgens rdl Hendrik Jordaan het hy ‘n brief geskryf aan die LUR vir samewerkende regering, behuising en tradisionele sake (Coghsta) in Noordwes, Gaoage Molapisi. Hy het ook gevra om ‘n moratorium te plaas op die afsny van kragtoevoer totdat die munisipaliteit se rekeningstelsel weer behoorlik funksioneer.
“Onbeplande stakings in handels- en vervaardigingsaktiwiteite weens die afsny van kragtoevoer verlam ondernemings en kan lei tot onnodige afleggings in ‘n gebied met ‘n reeds hoë werkloosheidsyfer. Dit is ‘n skande dat die inwoners en die sake-gemeenskap van Matlosana moet ly onder die roekelose wanbestuur van hierdie ANC-beheerde munisipaliteit,’’ het hy gesê.
Klerksdorp Rekord het verlede week berig oor talle inwoners en ondernemings wat sedert Desember aanmanings ontvang het met dreigemente dat hul kragtoevoer afgesny sal word indien hulle nie onmiddellik hul “uitstaande rekeninge” vereffen nie.
Talle inwoners en ondernemings se rekeninge is wel tydig vereffen en hulle beskik oor dokumentêre bewyse daarvan. Ander inwoners het duidelik foutiewe rekeninge ontvang waarin reuse bedrae van hulle vereis word.










