Klerksdorp Rekord, Klerksdorp - AfriForum se Klerksdorp-tak eis dat die Matlosana Munisipaliteit alle tariewe en begrotingsverwante beleide volledig en in ooreenstemming met wetgewing regstel en weer indien.
Dié versoek kom in reaksie op die burgerregteorganisasie se kommer oor die wettigheid van die munisipaliteit se 2025/2026-begroting en tariefgoedkeurings.
In ’n verslag wat aan die munisipale bestuurder voorgelê is, wys AfriForum op verskeie kritieke tekortkominge wat die geldigheid van die begrotingsproses en die regmatigheid van verskeie goedgekeurde tariewe en heffings bevraagteken.
In ’n brief aan die munisipaliteit op 28 Julie, het AfriForum ook ’n beroep op die munisipaliteit gedoen om die implementering van enige tariewe wat nie behoorlik deur die munisipale raad goedgekeur is nie, te staak. Dit volg nadat slegs 15 van die 27 geadverteerde tariewe goedgekeur is ten spyte van ernstige tekortkominge en verskeie sleutelitems - insluitend tariewe vir munisipale hostelle, menslike nedersettings en ingenieursdienste - glad nie aan die munisipale raad voorgelê is nie. Ten spyte hiervan is die begroting steeds goedgekeur.
AfriForum het ook onreëlmatighede uitgelig in die munisipaliteit se hantering van basiese kragheffings. In teenstelling met die algemene persepsie, reguleer die Nasionale Energiereguleerder van Suid-Afrika (Nersa) nie die basiese heffing vir elektrisiteit nie - slegs die eenheidstariewe. Tog het die munisipaliteit herhaaldelik hierdie basiese heffing verhoog - 5,1% in 2023/2024, 11,25% in 2024/2025 en ’n voorgestelde 11,5% vir 2025/2026 - sonder enige geleentheid vir openbare deelname.
Volgens Alta Pretorius van AfriForum is talle items voorgelê met onvolledige, onakkurate of ontbrekende inligting, wat raadslede se vermoë om ingeligte besluite te neem, ernstig benadeel het. “Van besondere kommer is die feit dat die munisipale raad moontlik nie behoorlik sy denke toegepas het toe die jaarlikse begroting goedgekeur is nie, soos vereis deur die Wet op Munisipale Finansiële Bestuur. Die raad moes ’n omvattende begrotingspakket goedkeur, insluitend alle verwante beleide en tariefskedules.’’
Sy het so ver gegaan om te sê dat die munisipaliteit onwettig opgetree het, aangesien geen Nersa-goedkeuring vir hierdie basiese heffings vereis of van toepassing is nie.
In die brief aan die munisipale bestuurder het AfriForum ook gevra dat die Matlosana-munisipaliteit duidelike, gedateerde kommunikasie oor alle tariefverhogings verskaf, en om die beginsels van openbare deelname te handhaaf.
“Dit wys op ’n volledige ineenstorting van bestuur en deursigtigheid. Die munisipaliteit kan nie aanspraak maak op ’n wetlik voldoende begrotingsproses wanneer raadslede nie eers van alle relevante tariefaansoeke voorsien is nie - en nog minder in ’n formaat wat aan wetgewende standaarde voldoen,” het Pretorius gesê.
AfriForum het gewaarsku dat versuim om op te tree die munisipaliteit aan regsaksies kan blootstel en openbare ontevredenheid met plaaslike bestuur kan vererger, en moedig inwoners aan om voort te gaan om onreëlmatighede aan te meld, aangesien burgerlike samelewing ’n kragtige teenvoeter is vir staatsverval.