Klerksdorp Rekord, Klerksdorp - Lanklaas het die soektog na ‘n vermiste hond mense so aangegryp as die storie van Kaptein.
Die Doberman Pinscher is vroeg vandeesweek brandmaer op ‘n plaas in die Hartbeesfonteindistrik gevind sowat 10 km van waar hy weggeraak het op 20 November. Wat dit nog meer aangrypend maak is dat sy eienaar, Angelique Rossouw van Upington, daarna deur swendelaars om die bos gelei is wat voorgegee het dat hulle die hondjie buite Stilfontein opgetel het. Dit was alles leuens.
“Dit was vir my nog meer traumaties as die eerste keer toe ons Kaptein verloor het. Ons het egter nie moed verloor nie en met gebed as versterking het ons pamflette laat uitdeel wat in die omgewing van Alabama en Manzilpark versprei is.’’
Haar broerskind het Kaptein by die plaas opgelaai en hou hom veilig by haar. Eers toe het Angelique ‘n sug van verligting geslaak dat haar hondekind binnekort tuis sal wees. “Ek kan nie wag om hom weer vas te hou nie.’’
Toe die nuus bekend word dat Kaptein veilig is, het boodskappe van blydskap vanoor die hele land ingestroom. Mense van oral is geraak deur Kaptein se storie.
“Sê vir haar ons almal hier in die Ooste van Pretoria is net so bly dat Kaptein gekry is,’’ het Yolande Kriel per telefoon laat weet.
“Ek kan nie genoeg dankie sê vir almal wat help soek het nie, almal wat pamflette versprei het nie. En dan die mense by wie Kaptein uiteindelik beland het. Baie dankie dat julle hom veilig gehou en kos en water gegee het,’’ het Angelique uit Upington laat weet.










