Fields marked with an asterisk (*) are required.
Name *
Username *
Password *
Verify password *
Email *
Verify email *

Latest news
Typography
  • Smaller Small Medium Big Bigger
  • Default Helvetica Segoe Georgia Times

Klerksdorp Rekord, Klerksdorp - Naasbestaandes van die groep jongmense wat ernstig beseer is in ‘n botsing in die middernagtelike ure van Sondag 25 Februarie probeer nog sin maak van wat gebeur het.

Maar vir Rentia Steyn gaan niks haar seun terugbring nie. Lucas Steyn (19) het voor in die motor gesit toe dit tromp-op teen ‘n vragmotor vasjaag wat besig was om oor die kruising van Ian- en Chis Hanistaat te draai. Hy het nie die botsing oorleef nie. Videomateriaal van kringtelevisie van ‘n nabygeleë huis wys hoe die wit motor teen ‘n vinnige spoed op die kruising afpyl en in die vragmotor vasry. Dit was donker. Beurtkrag was van krag en die verkeersligte het nie gewerk nie.

 

‘n Inwoner wat naby aan die toneel woon het die botsing gehoor gebeur. Sy en haar ma het in die straat uitgeloop om te kyk. “Dit was ‘n hengse slag. Mense het na ‘n ruk op mekaar geskree en gevloek. Daar was ‘n vrou wat geskree het, dit het na ‘n seer skree geklink. Na ‘n baie lang ruk het ‘n ou van die toneel afgestap gekom. Hy het twee rye spore geloop, sy kop vasgehou en geskud, soos in ongeloof. Hy het in die rigting van Lautzlaan gestap,’’ het sy gesê.

In die motor was ‘n groep vriende wat glo die aand by ‘n paar plaaslike kroeë gesien is. Drie van hulle, Lucas, Joané Pieterse (19) en Johnny Groenewald het saam by ‘n kroeg gewerk. Hulle was hegte vriende en het die aand saam met Brandon Gregory (26), en Ashley Erasmus (24) gekuier. Brandon was glo agter die stuur van die motor.

Die twee meisies het albei vir hul ouers vertel hulle het weggejaag van ‘n ander voertuig. “Ons weet nie wat werklik gebeur het nie. Die polisie is besig met die ondersoek. Op die stadium is my kind in erge pyn. Sy vat alles wat gebeur het baie sleg. Sy is baie emosioneel oor Lucas. Sy het baie seergekry,’’ het Elmarie Pieterse gesê.

Die meisies het agter in die motor gesit en verskeie frakture opgedoen. Joané se bobeen, pelvis, en arm is ondermeer gebreek. Sy is in Klerksdorp geopereer en toe na Potch Medi-Clinic oorgeplaas waar sy weer geopereer is en later die week weer sjirurgie moet ondergaan. “Haar pad na herstel is lank. Sy gaan weer moet leer loop.’’

Ook vir Ashley lê ‘n lang herstelpad voor. Sy is na ‘n marathonoperasie om haar heup en bobeen reg te maak op Dinsdag 27 Februarie aan ‘n ventilator gekoppel omdat gebreekte ribbes haar long geperforeer het. Volgens haar stiefma, Carma Duvenage, is dit net om die longe bietjie te help. Sy moet later die week weer geopereer word aan haar gebreekte arm.

Johnny het in die middel tussen die meisies gesit en is met die impak deur die windskerm geslinger. Hy is steeds in Tshepong Hospitaal se waakeenheid. Brandon is ook met beserings in Tshepong Hospitaal opgeneem. Die ambulans het hom glo opgelaai by die huis van vriende waarheen hy gestap het om hulp te gaan kry na die botsing. Geen verdere inligting oor hul toestand is bekend nie.

Volgens lt kol Amanda Funani, polisiewoordvoerder, ondersoek die polisie ‘n saak van strafbare manslag.