Klerksdorp Rekord, Klerksdorp - Die families van die vier jongmense wat verlede jaar in ‘n botsing op die N12 by die Plataanlaankruising dood is, het Mike Bolhuis Privaatondersoekers aangestel om die ondersoek na hul geliefdes se dood, verder te vat.
Bykans 200 mense het Maandagaand 13 Oktober in ‘n konvooi gery na die toneel waar die botsing plaasgevind het. Hulle het blomme gelê en kerse aangesteek by die gedenksteen wat verlede jaar daar opgerig is. Mense is ongelukkig dat daar in ‘n jaar na die ongeluk nog geen vordering met die ondersoek gemaak is nie.
Cherice Grobler, een van die oorledenes se suster, is bly die kollig word weer op die ongeluk geplaas en het na die tyd aan Klerksdorp Rekord gesê dit was “beautiful’’, maar baie hartseer. “Voel onregverdig dat ons daar moet staan. Ek baklei vir geregtigheid omdat die regstelsel ons fail.’
Morney Vos, namens Mike Bolhuis, het versoek dat ooggetuies van die ongeluk hom kontak sodat hy verklarings kan kry. “Ons kan nie meer wag vir die polisie om die verklarings te kry nie. Te veel tyd het verloop. Ons stel ons eie dossier saam en gaan ook ‘n rekonstruksie van die ongelukstoneel laat doen deur deskundiges. Dit is baie duidelik dat die persoon wat vir die ongeluk verantwoordelik was teen ‘n baie hoë spoed gery het,’’ het hy gesê. Skakel Vos by 066 212 5193 indien jy met die ondersoek kan help.
* Klerksdorp Rekord het verlede week berig dat dit ‘n blou Renault Clio was wat in die ongeluk betrokke was. Dit was ‘n fout. Dit was wel ‘n Renault Sandero. Ons stel graag die feit reg.