Klerksdorp Rekord, Klerksdorp - Die inwoners in die middestad, die suidelike en westelike woonbuurte, Alabama en Hartbeesfontein se geduld is besig om op te droog. Dié gebiede het vir weke lank nie water nie en as daar water is, is dit net vir ‘n kort rukkie en dan is die krane weer leeg.
Klerksdorp het vir bykans vier weke nie vullisverwydering nie, omdat die “diensverskaffer glo nie betaal is nie” en dan gaan Noordwes gebuk onder ‘n hittegolf en beurtkrag. Is daar ‘n lig aan die einde van die tonnel?
Die stadsraad het in ‘n persvrystelling probeer verduidelik wat die oorsaak van die waterkrisis is, maar dit was niksseggend en die raad het ‘n gebarste pyp blameer vir al die probleme. ‘n Pyp het gebars, maar die probleem is baie groter as ‘n pyp wat gebars het.
Rdl Johannes le Grange draai nie doekies om wanneer hy oor die probleme in die raad praat nie. Hy is egter ook al raadop, maar volgens hom is daar goeie nuus. “Die telemetriestelsel by die reservoir in Roosheuwel is gevandaliseer. Dié stelsel reguleer die krag wat die pompe elektronies aan- en afskakel en laat toe dat die reservoir vol loop as die krag weer aankom na beurtkrag. Die persoon wat die pompe moet aanskakel omdat die stelsel nie werk nie, verkies om eerder die pompe die volgende oggend aan te skakel as die krag om middernag weer aangekom het. Met elke twee uur sessie, daal die vlak met 20%,” verduidelik hy.
Die goeie nuus is dat Midvaal besig is om die telemetriestelsel te herstel op die reservoir. “En hulle gaan ekstra veiligheid ook installeer om hul toerusting te beskerm teen vandalisme. Hulle hoop om dit voor die naweek klaar te hê en van daar af glo ons dinge kan weer vlot verloop soos in die verlede. So daar is lig aan die einde van hierdie donker tonnel. Dankie aan Midvaal wat weereens bereid is om die inwoners te help met die waterkrisis.”
Die reservoir in Alabama is ook verlede naweek skoongemaak en dit het veroorsaak dat Oudorp, Freemanville, Roosheuwel, Meiringspark, Declerqville, Songloed, Elandsheuwel, Collerville, Elandia and Uraniaville sonder water was. “Die gebrek aan vullisverwydering is as gevolg van ‘n staking oor beskermde klere wat die personeel wil dra en omdat die diensverskaffer nie betaal is nie.”