Klerksdorp Rekord, Klerksdorp - Sy verwys na die man wat sy as haar oupa geken het as die monster.
Sy is nou op hoërskool. Hy het haar die laaste keer verkrag die dag na haar verjaardag in graad 7. Die eerste keer toe hy snaaks aan haar gevat het was sy vyf jaar oud.
Haar getuienis in die hof oor hoe haar stiefoupa haar verkrag het, het hom aan die pen laat ry. Die 66-jarige man is op Dinsdag 25 Februarie in Klerksdorp se hof vir seksuele misdrywe tot lewenslange tronkstraf gevonnis.
Hy was sedert sy inhegtenisneming in Augustus 2022 agter tralies. Hy het deurentyd skuld ontken op die bewerings dat hy van 2017 tot 2022 sy vrou se kleinkind seksueel gemolesteer het.
Die waarnemende provinsiale kommissaris, genl maj Patrick Asaneng, het die tienermeisie geloof vir haar dapperheid en getuienis om die skuldige aan die kaak te stel.
Sy was vir drie dae onder kruisverhoor. In haar getuienis het sy gesê sy het hom vergewe, en dat dit God se werk is om hom eendag te straf. Tydens sy uitspraak het landdros Makgaola Foso haar geloof vir haar goeie getuienis ten spyte van die lang kruisverhoor. Alles het op die lappe gekom in haar laaste laerskooljaar toe sy in ‘n brief aan ‘n skoolmaat daarvan skryf. Dié kind het dit vir haar ma vertel wat die skool daaroor ingelig het.
Volgens die ondersoekbeampte, adjoff Dave Venter, het die skool haar ouers gekontak, wat die polisie dadelik in kennis gestel het. “Hulle hantering van die saak was van die begin af bewonderingswaardig. Hulle het haar geglo en van die begin af nie by die ondersoek ingemeng nie en ons toegelaat om ons werk te doen.’’
Asaneng het vir Venter, en adv Wilna Cordier, die staatsaanklaer, en ander rolspelers geprys vir goeie samewerking om die vonnis te verseker.
* Die verkragter se identiteit word nie bekendgemaak nie om die slagoffer te beskerm.