Fields marked with an asterisk (*) are required.
Name *
Username *
Password *
Verify password *
Email *
Verify email *

Latest news
Typography
  • Smaller Small Medium Big Bigger
  • Default Helvetica Segoe Georgia Times

16 Mei 2025 - Deur Salomé Kotzé

Klerksdorp Rekord, Klerksdorp - Die ouers van ‘n vrou wat eers met ‘n mes gesteek en toe in haar huis doodgebrand het, het verlede week gehoor dat die man wat van haar moord verdink word, nie meer agter tralies is nie.

Die moordsaak teen Quinn van der Bergh is op Dinsdag 6 Mei teruggetrek en die saak is van die hofrol verwyder. Dit kom nadat die saak verskeie kere uitgestel is sodat die Nasionale Vervolgingsgesag (NVG) die saak na die Hooggeregshof kon neem. Die landdros was nie gelukkig met die NVG se voete sleep met die saak nie, en het die saak geskrap. Dit beteken dat Van der Bergh wat sedert hy homself aan die polisie oorhandig het in Oktober 2022 in aanhouding was, verlede week as ‘n vry man uit die hof gestap het.

Sivenathi Gunya, woordvoerder van die NVG in Noordwes, het by navraag bevestig dat die hof ondersoek ingestel het om die redes vir die vertraging te kry, en nie tevrede was daarmee nie - wat tot die besluit bygedra het om die beskuldigde te laat gaan. Hy het gesê die Direkteur van Openbare Vervolging moet nou intree en sal die saak weer op die rol plaas. “Ek kan nie sê wanneer dit sal gebeur nie.’’

Stella Groenewald was geskok om die nuus te hoor dat haar vermoorde dogter se ekskêrel uit die tronk is. “Ek weet nie of ons ooit geregtigheid vir haar dood gaan kry nie. Dit maak net nie vir ons sin nie. Ons het nie eers geweet hy kom voor nie. Dit maak net nie vir my sin nie.’’ Barbara Groenewald was haar enigste kind.


Van der Bergh is destyds borgtog geweier, omdat hy as ‘n vlugrisiko beskou is. Hy het in die buiteland gewerk en nie ‘n vaste adres in Suid-Afrika gehad nie. Hy is aangekla van moord met voorbedagte rade, huisbraak met die doel om ‘n misdaad te pleeg en brandstigting. Die vermoede bestaan dat hy tans by sy ouers in Klerksdorp tuisgaan. Klerksdorp Rekord kon hom nie opspoor vir kommentaar nie.

Volgens ‘n plaaslike prokureur is Van der Bergh nie skuldig of onskuldig bevind nie, dis saak is bloot opgeskort van die hofrol. “Die bal is nou basies in die staat se hande. Hulle moet besluit of en hoe hulle die oorspronklike probleem gaan oplos om die saak weer voor die hof te bring. Intussen geniet die beskuldigde vryheid.’’

Getuienis in hof

Getuienis wat daarop dui dat Barbara Groenewald nog gelewe het toe haar huis aan die brand gesteek is, is in 2022 tydens Van der Bergh se verhoor om op borgtog vrygelaat te word, by die hof ingedien. Die paartjie was verloof, maar die verhouding het op die rotse beland. Groenewald se verkoolde liggaam is die aand van 22 Oktober 2022 in die puin van haar afgebrande huis in Wilkeville gevind. 

Van der Bergh het hom twee dae na Groenewald se dood aan die polisie oorgegee en volgens getuienis in die borgverhoor het hy erken dat hy haar doodgemaak het. In sy beëdigde verklaring, wat tydens die verhoor by die hof ingedien is, ontken hy egter skuld weens “stresfaktore’’ wat ‘n rol gespeel het in die misdaad. Hy het gesê hy het die aand van die moord na Groenewald se huis gegaan om op haar selfoon te kyk met wie sy kommunikeer. Hy het ‘n spaarsleutel gebruik wat hy gehad het van die tyd dat hulle nog saamgewoon het. 

Sy het reeds geslaap en het wakker geword terwyl hy in die huis was. Hy het haar toe glo per ongeluk met ‘n mes gesteek nadat hulle baklei het en omdat hy bang was, petrol in die huis gegooi en dit aan die brand gesteek.

Die lykskouing het getoon dat Groenewald nog geleef het toe die huis aan die brand gesteek is. Sy het steekwonde aan haar bolyf gehad, waarvan een haar regterlong deurboor het. Die oorsaak van haar dood was die steekwonde, asook die brandwonde. Die polisie se forensiese afdeling het vasgestel dat die brand ontstaan het in die kamer waar Groenewald gevind is.