Klerksdorp Rekord, Klerksdorp - Almal se gunsteling kroegvlieg is verlede week dood na ‘n lang hospitaalstryd teen septisemie.
Jannie du Rand (63) het by verskeie restaurante en kuierplekke in Klerksdorp gewerk as bestuurder en was baie bekend in die stad.
Die meeste Klerksdorpers het hom leer ken as die vriendelike bestuurder by Legends, toe nog ‘n gewilde uithangplek in Pienaarsdorp. Hy was bekend dat hy gaste altyd met die hand gegroet het en lief was om geselsies aan te knoop. Dit is hoe almal wat al van Parys tot in Klerksdorp in ‘n kroeg wat deur Jannie bestuur is, hom onthou.
Jannie het om 18:30 op Vrydag 12 Januarie sy stryd verloor in die Life Anncron hospitaal. Sy suster, Trudie Vermeulen, vertel dat hy bykans twee maande in die hospitaal was. “Hy het erge diabetes gehad en sy tone is geamputeer. Dit wou nie gesond word nie. Die antibiotika was onsuksesvol en hy is aan komplikasies as gevolg van septisemie oorlede. Die kiem is na sy brein toe.”
Hy het self sy frustrasies met sy gesondheid op Facebook verwoord en in Desember geskryf hy is besig om moed te verloor. Die familie het verlede week op sosiale media laat weet dit gaan nie goed met hom nie.
Dit is vir Trudie nog vreemd om te aanvaar dat haar kleinboet oorlede is, want sy het geweet hy was in die hospitaal en dat hy weer huis toe sal kom en nou moet sy vrede maak met die feit dat hy nie weer gaan huis toe kom nie.
Sy is verbaas hoe bekend hy was, want “oral waar ons loop, ken mense vir Jannie”. Sy beskryf hom as baie hulpvaardig en sê hy het altyd gedoen wat sy hom gevra het. “Jannie was die laatlam van ons vier kinders. My ma het altyd gesê ons moet hom oppas, want hy is die jongste. Dit het toe nie gewerk nie. Hy moes beter na homself gekyk het,” sê Trudie hartseer.
Jannie het op ‘n plaas in die Klerksdorp-distrik grootgeword. Sy ouers het dorp toe getrek toe hy skool toe moes gaan. Hy was in Unieskool en Hoërskool Schoonspruit.
Hy word oorleef deur sy lewensmaat van die afgelope 18 jaar, Petro van Zyl. Hulle het by sy suster gewoon.