Klerksdorp Rekord, Klerksdorp - Die polisie laat geen steen onaangeraak in hul ondersoek na die ontvoering van ‘n sakeman wat verlede week laas gesien is.
Die 62-jarige Danny Maluleke woon nou maar vyf maande in die sekuriteitskompleks in Klerksdorp vanwaar hy glo Donderdagaand 10 April verdwyn het. Hy het verlede jaar Oktober afgetree.
Klerksdorp Rekord het verneem dat sy vriendin wat saam met hom in die huis woon onraad vermoed het nadat sy niks van hom gehoor het nie en verdagte transaksies op sy bankrekening gesien het. Sy het die polisie geskakel en sy bankrekening gevries.
Kol Adele Myburgh, polisiewoordvoerder, het op Woensdag 16 April bevestig dat Maluleke ontvoer is. Sy wou nie veel inligting bekendmaak nie aangesien die ondersoek sensitief is. Sy het wel bevestig dat ‘n 47-jarige vrou van Jouberton in hegtenis geneem is en nog die week in die hof gaan verskyn.
“Die vrou het geen verwantskap met die slagoffer nie. Die ondersoekspan werk nagte deur in die ondersoek en het haar by ‘n taverne in Jouberton vasgetrek. Sy is geindentifiseer nadat ‘n motorvoertuig wat in die ontvoering gebruik is, met haar verbind is. Daar word na nog verdagtes gesoek,’’ het sy gesê.
Intussen het die heldersiende medium op haar Facebookblad Unsolved Cases ‘n foto van Maluleke publiseer en ‘n beroep op haar volgelinge gedoen om hom te help opspoor. “Ons hoop om hom binnekort lewendig te kry. “Daar was ‘n inbraak by sy huis en hy het met twee voertuie verdwyn. Niks is weer van hom gehoor nie. Sy vrou was weg met werk en is regtig bekommer oor waar hy hom bevind,’’ het sy gesê.
Kol Myburg het bevestig dat die ontvoerders nie kontak gemaak het nie. “Ons ondersoekbeamptes werk deurnag aan hierdie saak. Baie leidrade word opgevolg.’’