Klerksdorp Rekord, Klerksdorp - Laerskool La Hoff is in rou gedompel die week nadat ‘n onderwyser van die skool saam met sy gesin in ‘n gruwelike botsing betrokke was.
Mike van Rooyen se dogter, Michelle, het nie die ongeluk oorleef nie. Sy was ‘n leerling van die skool. Mike, sy vrou, Elloise en ander dogter, Lize is in die hospitaal opgeneem. Die gesin was onderweg na Koster toe hulle in ‘n botsing reg van voor betrokke was.
Klerksdorp skole het op Maandag 3 Februarie uitgereik met boodskappe van medelye aan die gesin wat op sosiale media gedeel is. Ook Laerskool La Hoff het meegevoel aan hul onderwyser en sy gesin betoon. Klerksdorpers wat kommentaar gelewer het, het die jong Michelle as ‘n pragtige meisiekind beskryf.
Lisa-Ann van Zyl het gesê haar seuntjie, Anro, een van Michelle se klasmaats, se hart was seer toe sy die nuus met hom deel.
“Ek bid vir julle. Michelle, jy was ‘n wenspanmaatjie en die band wat die groepie kinders het is so kosbaar en raar. Anro se hartjie was opreg so diep seer toe ek hom sê. Sterkte aan almal wat vir haar lief is. En baie sterkte met die genesing van alle wonde.”
Die familie het nie kans gesien om met Klerksdorp Rekord te praat nie.