Klerksdorp Rekord, Klerksdorp - Hoe kan ‘n winkel in ‘n besige winkelsentrum helder oordag beroof word, die rowers bloot in hardloop, vat wat hulle wil hê en weer uit hardloop. Is dit dan so maklik?
Dit is van die vrae wat inkopiegangers by die Pick n Pay hipermark vra na die pandemonium op Maandag 13 Oktober toe ses gewapende rowers, sonder enige gesigsbedekking, omstreeks 11:00 doodluiters instorm, die glaskaste by Kings Jewellers begin stukkend kap en juwele en horlosies in ‘n sak laai, en weer uit hardloop. Twee het die eienaar aangehou en die ander vier het juwele gevat.
Dit was die tweede keer sedert 2023 dat die winkel beroof is en sterker glas is glo na die vorige rooftog geïnstalleer om die juwele te beskerm.
Die verslae inkopiegangers het in alle rigtings gevlug, met sommige wat in die Wimpy weggekruip het. Ander het verstar by die kasregisters gestaan. Ander wou net wegkom en het hul inkopies net so gelos en uitgehardloop.
Volgens brig Sabata Mokgwabone, polisiewoordvoerder, het die rowers in ‘n motor gespring en weggejaag. Die motor is later gekry, maar daar is nog geen spoor van die rowers nie.
Klerksdorp Rekord was op die toneel met sommige inkopiegangers wat nie eens bewus was van die voorval nie en ander wat te geskok was om te praat. Buite het mense vertel dat hulle geweerskote gehoor en gevlug het, maar die polisie het bevestig dat geen skote geklap het nie. Nog ‘n persoon het gesê hulle sou op die rowers skiet as hulle net hul vuurwapens by hulle gehad het. Almal was dit eens dat so iets nie moet gebeur nie en dat die sekuriteit by die sentrum opgeknap moet word.
Minute na die voorval was dit wel besigheid soos gewoonlik en mense het aangegaan met hul inkopies terwyl etlike nuuskierige mense rondom die juwelierswinkel saamgedrom het waar die polisie besig was om verklarings te neem.
Die personeellede van die juwelierswinkel het berading na die voorval ontvang. Hulle wou nie met die media praat nie. Kings Jewellers dryf al vir etlike jare handel in die inkopiesentrum.
* Was jy in die winkel en het jy die roof gesien en beleef? Die polisie wil graag met jou praat. Skakel die Klerksdorp-speurtakbevelvoerder, kol JC Scholtz, by 082 568 6264, met inligting.