Klerksdorp Rekord, Klerksdorp - ‘n Motoris wat ‘n slagoffer was van ‘n misdaadbende in die middestad is oortuig dat die aanvalle nie vir persoonlike gewin is nie, maar eerder as haataanvalle beskryf kan word.
Nicolene Greyling sê OR Tambostraat is “die mees onveiligste straat in die land’’. “Ons stad se gevreesde hoofstraat word dalk deur die polisie as petty crimes gesien, maar ek verskil daarvan. Mense word direk geteiken, in sommige gevalle ernstig beseer en skade word aan jou voertuig aangerig.’’
Sy en haar man bedryf ‘n onderneming in die middestad en ry daagliks in OR Tambostraat. “Ons sien waar hulle staan en wanneer hulle gaan toeslaan. Of jou deure en vensters gesluit en toe is maak nie meer ‘n verskil nie. Die publiek in hulle voertuie by rooi robots het al begin om mekaar te probeer waarsku wanneer jy sien dit gaan met die voertuig voor jou of langs jou gebeur. En dit is hier waar die ‘klein misdaad’ begin eskaleer het.’’
Sy sê die rowers is astrant genoeg om mense te dreig en aan te val wat ander mense begin waarsku. “Hulle is ‘n hele bende. Daar word reguit vir jou geskree en gevloek en hulle dreig om jou dood te maak.’’
Sy en haar man is gedurende Nampo-week aangeval omdat hulle die mense voor hulle probeer help het. Waar hierdie skelms voorheen hoofsaaklik ongewapen is, dra hulle deesdae messe by hulle. “Hulle het my voertuig opsetlik beskadig deur te hardloop en my deure onophoudelik geskop, want hulle kon my man nie raaksteek nie. Dit help ook nie jy gaan polisie toe nie. Ons het met die betrokke aanval ‘n polisievoertuig opgemerk en hom gevra om ons en die ander mense te help wat ook aangeval is. Hulle het eenvoudig net geweier om uit hulle voertuig te klim, daar was vier insittendes in die motor, en het ons meegedeel dat ons ‘n saak by die polisiestasie moet gaan oopmaak.
“Let wel, die spul wat ons aangeval het was net in die volgende blok op die sypaadjie en is aan die polisielede uitgewys. Hulle het eenvoudig geen samewerking gegee om ons te beskerm nie.’’
Die duike aan hul motor is duidelik sigbaar op foto’s. Nicolene is teleurgesteld in die polisie. Sy het hul aanvallers later op foto’s herken wat in ‘n ander geval op sosiale media versprei is en dit by die polisiestasie ingegee. “’n Speurder het my gebel om te sê as daar nie bewysse is teen die mense nie, kan hulle niks doen nie. Ons as publiek het op die stadium geen meer hoop dat die SAPD hulle werk gaan doen nie.’’
Klerksdorp Rekord is bewus van nog ‘n voorval dieselfde week waar ‘n man byna al die vingers aan een hand verloor het, toe hy met ‘n vlymskerp mes op die sypaadjie aangeval is. Die vingers moes sjirurgies geheg word.