Klerksdorp Rekord, Klerksdorp - Mense wat ‘n verjaardag gevier het by ‘n huis in Mikrostraat, La Hoff het hul lam geskrik toe vuurwerke tussen hulle beland het wat bo-oor die tuinmuur gegooi is.
|
Leonie Botha is net dankbaar dat haar kinders nie in die voorval beseer is nie. Of nog erger, dat die huis aan die brand geslaan het nie. “As daardie vuurwerke net ‘n bietjie harder gegooi was, sou ons verseker skade gehad het. Ek is nou nog kwaad as ek dink wat Saterdagaand kon gebeur het.’’
Sy het vandeesweek met Klerksdorp Rekord oor die voorval gepraat en gesê die kwajongens wat dit gedoen het, moet gevang word voor “iemand seerkry’’. Beeldmateriaal wat op kringtelevisie vasgelê is wys vier insittendes in die Renault Kwid. Dit lyk of hulle sonbrille en maskers op het om hul identiteit te verbloem.
Die motor se registrasienommer is op ‘n eiendom in Alabama geregistreer maar die eienaar van die motor kon nog nie opgespoor word nie.
Leonie het in haar navrae oor die gebeure en wat sy op sosiale media geplaas het agtergekom dat ‘n soortgelyke geval onlangs ook in Doringkruin gebeur het. “Hulle ry verby jou huis en gooi dan klappers of vuurwerke oor die muur. Dit is jong mense wat besig is om met vuur te speel.’’
Hulle het nie ‘n klagte by die polisie gelê nie. “Ons weet nie eintlik wat om te doen nie, want wat sal die klagte nou eintlik wees. Ek wil net hê hulle moet gestop word voor iemand seerkry.’’
Leonie vertel daar was twee klipharde slae, toe die vuurwerke tussen hulle beland waar hulle buite gesit het.
“Dit was so half 9 die aand. Daar was nog mense binne die huis en gelukkig was die kinders ook binne. Ons het eers gedink dit is geweerskote. Dit was ‘n helse skok. My man en neefs het dadelik in hul motors gespring om te kyk of hulle die skuldiges kan vang, maar daar was geen teken van hulle nie.’’