Klerksdorp Rekord, Klerksdorp - Na 51 dae sonder elektrisiteit by ‘n staalonderneming in Uraniaville weens kabeldiefstal, is kragtoevoer uiteindelik vandeesweek na Go Big Steel herstel.
Aldurette Booysen was hoorbaar verlig toe sy op Dinsdag 18 November uiteindelik kon bevestig dat die kragtoevoer na hul besigheid weer gekoppel is. Die besigheid is die nag van 29 September sonder krag gelaat na kabeldiewe toegeslaan het. Oproepe na die munisipaliteit het niks opgelewer nie en sy het haar uiteindelik twee weke gelede na die koerant, politieke partye en sosiale media gewend om haar frustrasie te deel.
“Ek is baie dankbaar. Na vele oproepe, Whatsapp boodskappe, gebede en vreeslik baie geduld is ons krag weer gekoppel. Ons kan weer normaal funksioneer. Die volgende mense het my baie gehelp en gestuur in die regte rigtings. Hulle is Gerhard Strydom, Inge Wilkens, Lerina Strydom, Hendrik de Bruyn, Hendrik Jordaan VF, Mev Groenewald VF, Salomé Kotzé, Klerksdorp Rekord, Maklera Magazine, Motsieng Mooketsie, Melandie Roos, Johannes le Grange, Lourens Cromhout. Electrical Department en Portia vir al jou geduld elke oggend. En dan vir Elegance Line vir die werk wat hulle gedoen het, hulle is ‘n great span.
“Ons sê ook dankie aan Mouton Pretorius, ons elektriese man wat alles kom nagaan het en seker gemaak het die krag is reg. Ek waardeer elke persoon wat saam ons die pad gestap het, julle is almal staatmakers. Ons grootste dankie gaan aan Bertus van Pro Watch Security wat werklik die ekstra myl gegaan het om ons plek te beveilig in die tyd wat ons sonder krag gesit het.’’










