Klerksdorp Rekord, Klerksdorp - Wernich Botha se moordverhoor wat Maandag 2 Februarie hier in die hof sou hervat, is tot Mei uitgestel.
Die verhoor sal op 18 Mei hervat omdat die landdros die week weens persoonlike omstandighede nie by die hof kon wees nie. Botha word van die moord op Hilton Pretorius meer as twee jaar gelede buite ‘n kuierplek in Doringkruin aangekla.
Hy word daarvan beskuldig dat die vuishou wat hy Pretorius toegedien het, 18 dae later tot sy dood gelei het.
Familielede van die oorlede Pretorius wat die hofverrigtinge bygewoon het, het agterna gesê hulle is vooraf in kennis gestel oor die probleem en dat die saak uitgestel gaan word.
Botha wat drie maande op ‘n keer in Somalië werk, en daarna dan net vir drie weke in Suid-Afrika is voor hy weer moet vertrek, is eers weer in Mei in die land. Die verhoor sal tot 21 Mei duur.










