Klerksdorp Rekord, Klerksdorp - KHS staan die gevaar om hul plek in die Noordvaal-liga se plaatafdeling te verloor.
Met nog net ‘n handvol wedstryde oor, is KHS tweede laaste op die algehele punteleer in die liga na ‘n beroerde vertoning op die rugbyveld die afgelope naweek in Ermelo. Die eerstespan se vlag wapper nog sterk met ‘n stewige wen teen Ligbron Akademie (46-31). Die o/16A-span en o/14B-span het ook gewen met die ander spanne wat treurig gevaar het.
KHS behoort egter die wa deur die drif te trek aangesien hulle een wedstryd minder as hul teenstanders gespeel het, en so kan punte opmaak. Daar sal egter hard gewerk moet word om te verhoed dat die KHSérs hul plek in die liga verloor en afskuif na die skildliga.
Hoërskool Wesvalia is tans bo-aan die algehele puntetabel. Dit is die eerste jaar dat die skool in die sterk liga deelneem en met goeie uitslae op die rugbyveld wys dat hulle verdien om daar te wees. Wesvalia het Marais Viljoen met 28-22 geklop.
Die sterk kompetisie in die eerstespanne vir albei skole werp vrugte af, met albei spanne in die top 4 wat beteken dat KHS en Wesvalia moontlik weer in die semi’s of finale teen mekaar te staan kan kom.
Eerskomende naweek speel KHS teen OosMoot en die Pretorianers reis na Klerksdorp. Wedstryde begin reeds om 07:30. Wesvalia kom teen Hoërskool Middelburg te staan.