Klerksdorp Rekord, Klerksdorp - Die Ligbron Onafhanklike Skool het sy jaarlikse konsert verlede naweek gehou en die saal was gevul met trotse ouers en opgewonde kinders. Die kinders het hul harte uitgedans en gesing op die verhoog.
Ligbron is ‘n geregistreerde skool by die Departement van Onderwys wat spesialiseer in die onderrig van kinders met leerprobleme. Die skool bied ‘n CAPS en DCAPS kurrikulum aan en akkommodeer onder andere kinders met outisme, Downsindroom, serebrale gestremdheid, disleksie, ADHD en nog vele meer.
Die konsert op Donderdag 16 November was spesiaal in baie opsigte. Volgens Liana Steyn, hoof, was dit die meeste van die outistiese leerlinge se eerste verhoog-optrede en ten spyte van oorweldigende sensoriese komplikasies het hulle trots op die verhoog opgetree.
“Die konsert het die ouers se verwagtinge oortref om hul kinders op die verhoog te sien. Met blink ogies en waaiende hande het die kinders opgewonde hul ouers in die gehoor gegroet,’’ het sy gesê.
Die Ligbron skoolkoor met voorsangers Katy Oosthuizen (15) en Melanthe Nunes (15) was ‘n hoogtepunt. “Gesamentlik het hulle die gehoor bekoor en trane het vrylik gevloei. Die boodskap wat daardie kinders gebring het God geloof en almal weereens herinner dat daar niks te groot is vir die hemelse Vader nie.’’
Afgevaardigdes van die Departement van Onderwys het ook die aand bygewoon. Met amper 300 gaste het die Liggies van Ligbron Klerksdorp aan die brand gesteek.