Klerksdorp Rekord, Klerksdorp - ‘n Oud-Schoonie wat in die jaar 2000 gematrikuleer het, sal hom op 1 September weer by die skool aansluit.
Johan Jansen van Vuuren (43) is aangestel as die nuwe adjunkhoof van Hoërskool Schoonspruit. Hy sal sy pos op 1 September inneem.
Hy is tans ‘n onderwyser by HTS Klerksdorp waar hy sedert 2005 ‘n onderwyser is. “My vrou, Lizelle, is ook ‘n onderwyser by HTS. Dit is waar ons ook ontmoet het,” het hy aan Klerksdorp Rekord gesê.
Hy gee Lewenswetenskappe en was ook departementshoof van Wetenskappe, en is ‘n uitmuntende rugby-afrigter.
Johan het groot planne by Schoonspruit, veral op sportgebied, en glo dat deur waardes, vertroue en dissipline toe te pas dit die skool positief sal beïnvloed en na hoër hoogtes neem.
Hy het by die NWU studeer (voorheen PU vir CHO) en hy en Lizelle het drie kinders - twee is in Laerskool La Hoff en die oudste is tans ook ‘n Schoonie.