Klerksdorp Rekord, Klerksdorp - Teater moet jou meesleur en jy is veronderstel om ‘n reis saam met die akteurs op die verhoog te stap.
Ek haal my hoed af vir Hoërskool Wesvalia se drama-akademie wat nie skroom om teater aan te bied met swaar en ontstellende onderwerpe nie.
Maanmotte is verlede week vir twee aande in die Teatro by die skool aangebied en die teater was tot barstens toe vol die aand toe ek bygewoon het. Liena van der Merwe, onderwyser en skrywer van die drama, het emosioneel vertel dat dit moontlik die laaste keer is dat die teater gebruik sal word, voor ‘n nuwe lokaal open. So drama is nie dood by Wessies nie, dit skuif net!
Wat is ‘n maanmot? Google kon my nie ‘n verduideliking gee nie en ek moes wag om self uit vind.
Die stuk speel af in ‘n sogenaamde huis vir ongehude moeders in die tagtigs. In daardie tyd is jong ongehude ma’s nog weggesteek wanneer hulle oor die tou getrap het. Dit is waar die metafoor van maanmotte gebruik word. Hulle gaan die huis binne as papies, net om die huis te verlaat as vlinders nadat hulle hul baba’s gehad het. Beslis nie ‘n lighartige onderwerp nie, maar een wat die hoërskoolakteurs besonder behendig vertolk het.
Dit is so gepas, want die leerlinge is dieselfde ouderdom as die ma’s wat in Huis Papilio (die tehuis vir ongehude moeders) tuisgaan. Hier verdien die akteurs ‘n pluimpie: hulle is baie geloofwaardig as jong ongetroude ma’s wat hulle nou in afsondering bevind om sodoende die veragting van die samelewing vry te spring. Dit is hoe dit in daardie jare gewerk het, en was dit ‘n groot skandvlek as tienerdogters en jong vroue buite die huwelik swanger geraak het. Die leerlinge se talent kom na vore wanneer die emosies opvlam en hormone die oorhand kry. Dan het die ma’s mekaar aan die keel beet en die jong akteurs deins nie terug nie.
Die toneelstuk het twee tydlyne - in die tagtigs en dan sowat 20 jaar later. Dit is glad nie verwarrend nie en die stuk bereik sy hoogtepunt wanneer die tydlyne ontmoet.
Ek hoop dit is nie die laaste keer dat Maanmotte opgevoer word nie, want mense behoort dit te sien. Al is dit net om te sien hoe die samelewing verander het. Vandag se dae is daar nie meer plek vir Huis Papilio nie.
Maanmotte is ook opgevoer by die FAK Allegreto Toneelfees.