Klerksdorp Rekord, Potchefstroom - Klerksdorpers het hul stemme dik gemaak by die F1 Inflatable Boat Club se PPS Solutions Potch Circuit Fest wat die afgelope naweek by Potchdam aangebied is.
Dit was ‘n opwindende resies wat gesorg het vir naelbytaksie. In die standaardklas met 9 bote in die water was dit nooit seker wie koning gaan kraai met elke ronde wat ‘n nuwe wenner gehad het. Klerksdorpers Tyler en Surien Day het goed gevaar op die plat water, waar Tyler meer vertroud is in die see dissipline. Die klas is egter gewen deur Edwin en William Butler, die pa en seun kombinasie van Klerksdorp. Tweede plek is geneem deur die tweeling broers van Potch, Heinrich en Marais Cloete, en in die derde plek was dit Armandt Du Plessis en Jacques Marais van Johannesburg.
In die Pro-Stock klas was dit ‘n uitdagende dag vir Jean Louw en Lucan Rudman wat teen ‘n ervare Jaco Kloosterziel en Jaylene Gilas vir die titel gekompeteer het. Hulle het gelykop in die finaal in gegaan en dit is toe die Klerksdorpers, Louw en Rudman wat koning gekraai het. Kloosterziel en Gilas was tweede en in die derde plek was dit Vic Viljoen en Freddie van Jaarsveld van Pretoria af.
Dit was die laaste resies vir die jaar en die spanne berei nou voor vir die Trans Agulhas wat vanaf 28-31 Desember plaasvind op die tuinroete. Daar is ‘n paar spanne van die binneland wat aan die kompetisie gaan deelneem. Jy kan dit gerus volg op sosiale media en Klerksdorpers ondersteun.
Vir enige navrae oor die sport en hoe om deel te word daarvan, skakel vir Jean Louw by 083 634 1171 of Heinrich Cloete by 067 884 7751.