Klerksdorp Rekord, Klerksdorp - Die Luiperds se vrouerugbyspan het in die eindstryd van die eerste afdeling in George gespeel en die wedstryd naelskraap verloor op Vrydag 9 Augustus teen SWD.
Die wedstryd was so taai soos kon verwag word tussen die top twee spanne op die punteleer.
Beide spanne het vroeg in die wedstryd hul kanse gehad, maar desperate verdediging van albei groepe het die telling op 0-0 gehou. Met omtrent 30 minute reeds gespeel het die tuisspan die eerste punte aangeteken.
Die Noordwesters het nie moed opgegee nie en deur goeie verdedigingsdruk het hulle die kans gebruik om kort voor halftyd punte op die telbord te sit. Met die telling 7-3 het rustyd aangebreek. Dit kon nog enige kant toe gaan.
Die SWD het hul kanse in die tweede helfte goed gebruik en was 17 - 3 voor.
Die Luiperds het kanse verbeur in die openings oomblikke van die tweede helfte. Steeds het die Luiperds nie bes gegee nie. Hulle het na ‘n ander rat toe oorgeskuif en die SWD onder druk begin plaas.
Eers het Nadine van Reenen gaan druk en later met vyf minute se speeltyd oor het Baby Plaatjies vir die Luiperds gaan druk. Verana van Heerden kon nie die laaste drie verdoel nie. Die telling was in die doodsnikke van die wedstryd op ‘n mespunt op 17 - 16.
Die SWD kry in die laaste oomblikke ‘n strafskop, voor die pale, en wen die wedstryd 20 -16.