Klerksdorp Rekord, Klerksdorp - Nuwejaarsdag was ‘n besondere mylpaal vir Hilda Louw wat haar 250ste parkrun gestap het. Hilda is 78 jaar oud en een van die oudste damesstappers by die Matlosana Bird Park Run.
Sy verjaar in April. Hilda het in 2015 die Klerksdorp parkrun begin stap en het na haar 200ste keer gesê sy mik vir die 250ste een. As ‘n afgetrede onderwyseres by Wesvalia en KPS, en met ‘n stywe been (‘n besering na ‘n motorongeluk) het sy dit met wilskrag aangedurf. Sy het geen einde nie en sê sy sien nog kans om nog 50 parkruns aan te pak.
Saam met haar parkrun familie wat haar ondersteun en aanmoedig sien sy kans vir baie. Vriende het 250 kolwyntjies reggehad om haar 250ste parkrun te vier.
Sy moedig Klerksdorpers aan om ook deel te neem aan die weeklikse parkrun, oorkant Hoërskool Wesvalia. “Dit is baie goeie oefening en hou my lyf en kop gesond,’’ sê sy.
Hilda het nie net in Klerksdorp gestap nie, maar is ‘n reisende parkrunner. Sy het selfs in Engeland aan een deelgeneem.