Klerksdorp Rekord, Klerksdorp – ‘n Groep Klerksdorpers het as baanbeamptes opgetree by die pas afgelope Nedbank Gholf Challenge wat by Sun City aangebied is. Hierdie agter-die-skerms-kyk van die wêreldbekende gholftoernooi is omtrent ‘n belewenis, gesels plaaslike boer en sportfanatikus, HS Reyneke. Hy het al ‘n paar keer vantevore as baanbeampte opgetree en was vanjaar ‘’kaptein’’ van sy span.
“Mens kry ‘n heel ander gevoel van die game as jy ‘n marshall is, dit is onvergeetlik. Almal wat dit die eerste keer doen, staan nie sommer hul posisie af nie en keer elke keer terug. Dit is ‘n fees.’’
Baanbeamptes werk vrywillig en vergesel die gholfspelers vir die tydperk van die toernooi langs die baan en kyk dat toeskouers hulle gedra en daar stilte is wanneer dit nodig is. Al is daar geen betaling vir die week nie, pla dit nie, verseker Reyneke, ‘’want daar is genoeg perks soos verblyf, etes, klere en die hele ervaring maak dit onvergeetlik’’.
Vir hom was dit ‘n hoogtepunt om vir drie dae saam met Aldrich Potgieter te loop. Die jong speler het amper-amper die toernooi gewen en Reyneke is oortuig daarvan dat die wêreld gaan kennis neem van die 20-jarige gholfer. “Hy is so nederig, altyd tyd vir ander mense en hy speel uitstekende gholf. Hier kom nog iemand wat baie majors gaan wen,’’ voorspel hy.
Die beamptes het oor die tydperk maklik 50 km afgelê op die gholfbaan oor die vyf dae, maar al die onthou-oomblikke maak meer as op daarvoor. “Vanjaar het die uitermatige hitte nogal ‘n rol gespeel, maar ons sal dit elke jaar weer doen. Dis die moeite werd.’’
Nog baanbeamptes van Klerksdorp is Ruan Pretorius, Armand Wolmarans, Werner Nel, Rinaldo Kritzinger, Riaan Botes, Lennert van Rooyen, Hendrik Smit, Neels Pretorius, Jaco Strydom en Patrick Maichotlo.
Daar was darem ook tyd om self gholf te speel en hulle het ook aan die Marshal Golf Cup deelgeneem. Pretorius en Reyneke het die trofee die tweede keer in drie jaar gewen.
Tussendeur was daar ook tyd vir heelwat selfies, en die manne het natuurlik ‘n paar met ons gedeel.