Klerksdorp Rekord, Klerksdorp - Die 19de Vlakvarkwedloop het die afgelope naweek plaasgevind, met sekerlik die beste weer nog oor die afgelope 19 jaar.
Atlete het van oral gekom om deel te neem aan die bekende wedloop op Saterdag 20 September.
Daar was ‘n heerlike atmosfeer onder die drawwers en ondersteuners. Sommige van die drawwers was gelukkig genoeg om die renosters op hul roete op te merk, terwyl ander die nuuskierige kameelperde in die verte kon sien hardoop. Die amper 700 atlete het om 07:00 saam weggespring vir die 5km, 10km en 21km wat deur Faan Meintjes natuurreservaat kronkel.
Die wenner van die 5km-wedloop was Brian van Heerden, in ‘n tyd van 22 minute.
Die eerste meisie op die 5km was Simone Herselman. Die 10km wedloop is onderskeidelik gewen deur Duncan Frits 48 minute en die Van Deventer-susters, Bianca (eerste) en Yolandi (tweede), in 55 minute. Albei van hulle hardloop al van hul laerskooldae af die wedloop en het ook al die wedloop gewen.
Nedbank se Thulani Mokgethi het die moeilike 21 km in ‘n wonderlike tyd van 1 uur 25 minute voltooi. Vennesa Lottering van die Klerksdorp Marathonklub het die 21 km vir vroue gewen in ‘n tyd van 1 uur 49 minute.