Fields marked with an asterisk (*) are required.
Name *
Username *
Password *
Verify password *
Email *
Verify email *

Latest news
Typography
  • Smaller Small Medium Big Bigger
  • Default Helvetica Segoe Georgia Times

Klerksdorp Midweek, Klerksdorp - Slimfone en kunsmatige intelligensie in skole het vinnig van randgesprekke tot kernkwessies in die onderwyssektor beweeg. Die Federasie van Beheerliggame van Suid-Afrikaanse Skole (Fedsas) se uitvoerende hoof, dr Jaco Deacon, vertel dat ’n bekende Kaapse skool selfoongebruik gedurende die skooldag verbied het en talle ander skole het sedertdien die voorbeeld gevolg.

Baie van hierdie skole omarm wel onderwystegnologie en bepleit ’n gesonde balans in skole.

Onderwystegnologie ontwikkel teen ’n geweldige pas. Skole wat digitale leer ignoreer of gering skat, berei leerlinge voor op ’n toekoms wat nie meer bestaan nie. 

Dit is die kwessies wat die fokus gevorm het van vanjaar se Internasionale Dag vir Digitale Leer, wat jaarliks op 19 Maart die geleentheid skep om te besin oor tegnologie in onderwys.

“Die toekoms is digitaal. Dit is ’n feit. Diegene wat worstel met die hoekom en hoe van digitale leer is op die regte pad. Die agterosse is hulle wat kop-in-die-grond aan digitale leer as ’n foefie dink,” sê dr Deacon.

Volgens hom is debatte oor digitale leer egter kompleks, veral in ’n ongelyke samelewing soos Suid-Afrika. “In groot dele van ons land moet skole steeds uitdagings soos puttoilette, vervalle infrastruktuur en honger kinders die hoof bied. Hulle is nie blind vir die toekoms nie, maar ’n voedingskema is eenvoudig meer dringend. Daar is ook ’n wanindruk dat onderwystegnologie net slimborde en slimfone behels. Dit dek egter die hele spektrum van skoolbestuur tot klaskamertegnologie.”

Tegnologie kan ook ingespan word in die soeke na oplossings vir baie van skole se probleme. 
“Daar is byvoorbeeld lesse te leer uit hoe kunsmatige intelligensie in die landbousektor gebruik word en hoe dit na ’n skoolkonteks verplaas kan word tot voordeel van ’n voedingskema,” sê Riaan van der Bergh, adjunkhoof van Fedsas  en bestuurder van die Sentrum vir Tegnologie. 

Van der Bergh sê die federasie belê jare al in navorsing, opleiding en ondersteuning om digitale leer toeganklik te maak. “Dit sluit skole in waar daar min rekenaars en dikwels geen internettoegang is nie.”

Die nuutste uitgawe van digiTaal, die Sentrum vir Tegnologie se e-tydskrif, fokus juis op die regulering van selfone in skole en die groei van kunsmatige intelligensie en veral generatiewe KI. 

“Volgens ’n UNESCO-verslag verbied meer as 60 lande reeds selfoongebruik in skole op nasionale vlak deur middel van wetgewing of beleid. Hierdie besluite is gegrond op meer en meer navorsing wat dui op die negatiewe impak van onbeheerde selfoongebruik op veral kinders,” sê Van der Bergh. 
“Selfone bied egter ook relatief goedkoop toegang tot onderwystegnologie. Daar is drie benaderings tot tegnologie in skole, naamlik ’n totale verbod, beheerde gebruik en onbeperkte gebruik. Al drie benaderings het voor- en nadele en ’n skool se unieke omstandighede sal bepaal watter benadering die beste vir daardie skool is.”

Deacon sê gesprekke oor onderwystegnologie is nie beperk tot skole nie. “’n Duidelike strategie deur die nasionale departement van basiese onderwys is noodsaaklik. 

“Die nasionale departement is tans besig met die raamwerk vir die implementering van die Wysigingswet op Onderwyswette, wat ’n gulde geleentheid bied vir riglyne oor digitale leer. Ons het nou ’n gesonde debat nodig om die balans in ons skole te vind.”