Klerksdorp Midweek, Pretoria - ’n Glansgeleentheid soos min is op Saterdagaand 5 April by die Voortrekkermonument aangebied. Die Heldesaal in die Monument is statig geklee met kerse en keurige dekor, maar die trekpleister was natuurlik die gewilde sanger Ruhan du Toit, die ster van die Afrikaanse treffer “Monumentaal”.
Die meer as 400 Afrikaanse musiekliefhebbers was merkbaar meegevoer deur sy vertoning, wat gewissel het van klassieke wysies uit die FAK-Sangbundel tot kontemporêre Afrikaanse musiek met ’n kulturele inslag.
Die konsert se tema was “Red jou Erfenis” en is in samewerking met die Rapportryers aangebied om geld vir die Bloedrivier-erfenisterrein in KwaZulu-Natal in te samel.
Du Toit was self op die Bloedrivier-erfenisterrein tydens die verfilming van “Monumentaal”. “Toe ek Bloedrivier besoek het, het ek die wonderlike voorreg gehad om met die mense wat daar werk, te kon gesels en dit was geweldig verrykend. “Ek het besef dat dít wat daar gebeur het, soveel groter is as wat ons in geskiedenis op skool leer. Dit was ongelooflik hoe sterk ons voorsate se geloof was; net soos toe God die Israeliete gelei en gered het.”
Om begeestering vir die liedjie “Monumentaal” te kry, het Du Toit met die verfilming van die musiekvideo op reis gegaan en tien van die merkwaardigste landmerke besoek wat die Afrikaner na aan die hart lê. Op sy roete het hy die Voortrekkermonument, die Paul Kruger-monument op Kerkplein, asook die Paul Kruger Gereformeerde Kerk in Pretoria besoek. Hy was ook by die Nasionale Vrouemonument in Bloemfontein, die Sarel Cilliers-gedenkteken in Kroonstad, die Slag van Bloedrivier-erfenisterrein in Dundee, Susanna Catharina (Maritz) Smit (bekend as die Kaalvoetvrou) se standbeeld in Bergville, die Paardekraal-monument in Krugersdorp en die Majuba-monument in Volksrust. Ná bykans 2 000 km en vyf dae se reis reg oor Suid-Afrika is die Afrikanermonumente vasgevang om ’n besondere terugblik op die Afrikaner se geskiedenis te gee.
Du Toit is natuurlik ook bekend vir sy treffende verwerking en uitvoering van “Sound of Silence” toe hy lid van die musiekgroep Touch of Class was. Hy is ook een van die vyf manlike sangers wat die lied “Die Land” gesing het.
Tydens die Red jou Erfenis-konsert is die monument in rooi verlig om bewustheid te skep vir die enorme kragkrisis waarin die gebou gewikkel is.
Du Toit het ’n besondere passie vir sy kultuur en sy mense. “Ek is trots om te sien hoeveel mense hier is vir wie Afrikaans en ons erfenis belangrik is. Soos die liedjie ‘Ons sal self’ sê, moet ons saamstaan en self moue oprol om ons erfenis te bewaar.”