NOORDWESTER – COLIGNY – Coligny Sportklub bestaan sedert 1925 en soos dit maar gaan, het die klublede in die begin van 2000 begin afneem soos mense ouer geword het, gesterf het en weggetrek het.
Tot onlangs was daar minder as 20 lede oor en het die bestuur (wat boere en besigheidsmense van die area insluit) probeer om dit aan die gang te hou, maar die klub het nie volle aandag geniet nie en met min lede het die klub se fasiliteite begin verouder en verwaarloos.
Egter, het ‘n boorling besluit genoeg is genoeg en die Sportklub in ere herstel. Nou is dit weer ‘n geweldige aanwins vir die dorp. Sport wat reeds op dreef is: tennis, muurbal en rolbal. Binnekort volg Pickle ball (spesiaal vir die ouer garde) en jukskei. Soos die klub groei sal nog fasiliteite volg.
Daar is ook ‘n teetuin met verskeie koffies, tees en heerlike eetgoed. Ontbyt en ligte etes word aangebied. Hulle het ook ‘n dranklisensie. Braaigeriewe is beskikbaar, want Saterdag is braaidag in Coligny. Een Sondag van die maand word tipiese Boerekos voorgesit - vind vroegtydig uit en bespreek. Alle kos en bestandele word plaaslik gekoop, omdat die klub mense van die omgewing ondersteun. Vleis en groente word direk by boere aangekoop, koeke word deur die vrouens in die dorp gebak en hout vir braaivleis kom ook van boere.
Daar is groot TV’s vir sport wat tot vier verskillende kanale gelyktydig uitsaai. Huidiglik word daar ook vergaderings en byeenskomste in die klubhuis gehou.
Dankie aan almal wat gehelp het sodat die Sportklub ‘n groot sukses kan wees, nie net vir sport geesdriftigers nie, maar al die inwoners en omgewing.
Vir enige navrae en meer inligting kontak Elbe op 061 2376 036.