NOORDWESTER – LICHTENBURG - Na ses maande in die tuig gesels Noordwester met Marthinus Stoop, hoof (nie meer die nuwe) van Hoërskool Lichtenburg.
Teen dié tyd het hy sy voete gevind en sê met gemak: “Ek is ‘n Liggie”. Om te verhuis vanaf Pretoria na Lichtenburg was uitdagend, maar hy sê dit was terselfdertyd goed om te leer hoe dinge hier gedoen word. “Nou groei ek.”
Stoop is ‘n gesinsman; getroud met Anneri en die pa van twee pragtige dogtertjies, Kiara (3) en Michané (7).
Hy beantwoord ‘n paar vrae sodat die lesers die mens agter die hoof leer ken.
Wat was jou kleintyd-drome?
Ek wou altyd ‘n rugbyspeler word, ‘n Springbok of motorsport of rally ry.
Hoe raak mense se opinies jou?
Ek is meer ‘n luisteraar, maar dit wat saak maak in my lewe, sal ek ter harte neem.
Hoe pak jy moeilike onderwerpe aan?
Dit verg beplanning. Moenie bang wees nie en sien elke uitdaging as ‘n geleentheid.
Is dit ‘n fout om goedsmoeds te vertrou?
Iets moet beslis eers sin maak vir my.
Sien jy die groter prentjie raak?
Ja, definitief. Ek dink uit die boks.
Wat bewonder jy in ander?
Niemand is beter as ander nie - mens moet ‘n mens wees.
Gunsteling tydverdryf?
Gesinstyd is heerlik en dan speel ek ook gholf.
Gunstelingplek?
Beslis my huis. Ook die jagveld en om elke keer iets anders te skiet sodat ek ‘n collage kan maak.
Wat my die gelukkigste maak is… om saam met my vrou te sien hoe ons kinders groei. Wat my werk betref - leerders wat presteer en wil presteer.
Ek raak opgewonde wanneer… ek iemand iets goed sien doen en ek ‘n hand daarin het.
Vir my is die mooiste mooi… my vrou en dogtertjies en Noordwes wat die mooiste groen is na die reën.
Ek het hoop vir … die skool. Ek wil die skool maak wat hy was, so gou as moontlik, maar verseker teen die tyd wat ek dalk weggaan.
Alles raak beter as ek … gholf speel en mense het wat ‘n verskil in my lewe maak.
My gunsteling motor is… ‘n Ford Ranger Raptor bakkie, hier kan ek nie met ‘n sportmotor probeer ry nie (lag).
Ek word geïnspireer deur… my geloof, dit is vir my baie belangrik. Ook wanneer ek sien hoe mense hulle geloof uitleef.
Om te ontspan beteken… om optimale tyd saam met my gesin te spandeer. Geen sosiale media nie.
Ek sê dankie vir… die Here, my gesin en mense met inspraak in my lewe.
My groot droom is… om ‘n man te wees, om dit wat ek sê, te word. Ek wil ‘n voorbeeld vir ander wees.
Ek rus wanneer… ek by die huis is en minimum sewe ure kan slaap.
My gunsteling tyd van die dag is… as ek by die huis kom en my kinders skreeu “pappa” en deel ’n soen met my. ‘n Slegte dag word sommer beter.