NOORDWESTER – LICHTENBURG - Met harde werk, opregte samewerking en ruimhartige bydraes het die mense van Mareetsane verseker dat ’n gemeenskapsprojek suksesvol voltooi kon word - die oprigting van ‘n nuwe “naambord” vir die dorp.
Robert Lobese het die staalraamwerk van die MRZ (Mareetsane) letters vervaardig. Daarna het Jan Monosi en Tshepo Pholoholo die werk klaargemaak en die struktuur afgerond. Die VLU-vrouens het ook bygedra deur saam met die werkers die klippe te pak om die projek amptelik tot voltooiing te bring.
Plaaslike besighede en gemeenskapslede het die draad, klip, vervoer en sweiswerk geborg vir die projek. Die voltooide teken is tussen die Boeresaal en NWK opgerig.
Die dag was gevul met vrolikheid en samehorigheid. Dit was opbouend om te sien hoe die gemeenskap van Mareetsane hande gevat het om saam iets besonders te skep.









