NOORDWESTER – LICHTENBURG - Daar is weinig, indien enige, funksionaliteit by die Munisipaliteit te bespeur. Sondagoggend, 4 Mei omstreeks 05:00 het die voortslepende faksiegevegte weer uitgebars tussen sekuriteitsmaatskappye by die munisipale gebou en ‘n skietery tot gevolg gehad.
Klaarblyklik het die onlangse wettig aangestelde munisipale sekuriteitsmaatskappy, Eagle Springbok Security en Lifeways Security, van die onwettige munisipale bestuurder, Olaotswe Bojosinyane gebots.
Duidelik is dit ‘n situasie wat verband hou met konflik binne die munisipaliteit en faksiegevegte.
Kolonel Adéle Myburgh, SAPS kommunikasiepersoon, het bevestig dat “tydens die skietvoorval is ‘n veiligheidswag ernstig beseer en na die plaaslike hospitaal geneem, maar uiteindelik na ‘n ander hospitaal oorgeplaas. Polisie-ondersoeke duur voort”. Die polise ondersoek ‘n saak van poging tot moord, betreding en opsetlike saakbeskadiging, omdat slotte gebreek is om by die gebou in te kom. Die saak aangaande die onregmatige afvuur van ‘n vuurwapen is aanhangig gemaak teen die ander sekuriteitsmaatskappy.
Die munisipaliteit het sedert die onlangse plaaslike rege-ringsverkiesing gesukkel om behoorlike leierskap te behou, waar die grondwet in sommige gevalle twee burgemeesters gehad het, wat spanning in die munisipaliteit veroorsaak het. Hofuitsprake is gelewer, maar appél is weer ingedien oor wie die munisipaliteit moet lei - wat beteken dat sake steeds in die lug hang. Intussen duur die wanordelikheid voort. Dieslewering bestaan nie, salarisse aan werknemers word nie betaal nie en hierdie saak rondom mag, leierskap en duplisering van leierskap in Ditsobotla duur al vanaf 2022.
Die Ditsobtla Munisipaliteit het nie kommentaar gelewer op Die Noordwester se navraag nie.