NOORDWESTER - Grootpan VLU het hul 75ste verjaarsdag op 9 November gevier by die NWK Grootpan Boeresaal en alle oud-lede is genooi om die geleentheid by te woon.
“Kom ons maak tyd” is die Noordwes VLU tema van die jaar en met hierdie viering is dit presies wat Grootpan VLU gedoen het – maak tyd vir mekaar en oud-lede. Azel Blignaut het almal welkom geheet en Hannetjie Botha het geopen deur die Onse Vader te sing. Daarna lees Azel ‘n gedig oor die vrou voor en vertel die geskiedenis van Grootpan VLU. Adri du Preez is tans die oudste lid en is 43 van die 75 jaar deel van Grootpan VLU – voorwaar iets om op trots te wees. Baie dankie aan almal wat die verjaarsdag saam gevier het. Die volgende vergadering vind plaas in Januarie 2025. Vir meer inligting skakel Azel op 0833024722.