NOORDWESTER – LICHTENBURG - Die departement van vervoer sou tien jaar gelede ‘n nuwe rybewysdrukker aangekoop het. Tans is daar een, dié is op genade. En naby sy einde.
Intussen hoop die getal rybewyse op wat nog gedruk moet word en loop derduisende motoriste die gevaar om beboet te word, al het hulle betyds aansoek gedoen vir ʼn nuwe lisensie.
Die minister van vervoer, Barbara Creecy, het einde Mei in antwoord op ʼn parlementêre vraag erken dat daar R12 miljoen net die afgelope drie en ʼn half jaar bestee is om die huidige masjien te diens en te herstel. Die departement moes werkers boonop R4,3 miljoen vir oortydwerk vergoed, wat deur die stukkende masjien veroorsaak is. In dié tyd was die drukker 129 dae buite werking, waarvan 38 net in twee maande aangeteken is. Dit het tot gevolg dat die agterstand in die druk van rybewyse tans op 733 000 staan.
Wayne Duvenhage, uitvoerende hoof van die Organisasie teen Belastingmisbruik (Outa), sê dit is nie duidelik hoe lank dit gaan neem om die agterstand in te haal nie, want kommunikasie is swak. Die vraag is eerder hoe lank dit gaan wees voordat die masjien weer breek en daar oortyd gewerk moet word. Boonop wag Creecy nou vir ʼn hofbevel oor hoe om met ʼn vermoedelik onreëlmatige tender voort te gaan.
Die ouditeur-generaal het bevind dat die toeken van ’n tender van R898 miljoen deur die Bestuurslisensiekaartrekening (DLCA) onreëlmatig was. Die begroting wat die DLCA vir die aankoop van die masjien opgestel het, was net meer as R486 miljoen.
Creecy het in Maart gesê tussentydse maatreëls sal aangekondig word oor hoe met die huidige masjien voortgegaan sal word, gegewe die verouderde toestand daarvan en die gereelde instandhouding wat nodig is. Geen maatreëls hieroor is egter al aangekondig nie.
Intussen ry derduisende motoriste sonder lisensies rond. Dit blyk dat motoriste wat betyds aansoek gedoen het, nie gedwing kan word om te betaal vir tydelike lisensies nie.
“As hulle tydelike rybewyse moet kry, moet die departement daarvoor betaal,” aldus Wayne Duvenhage. Duvenage raai motoriste wie se lisensies verval het aan om met die kwitansie en dokumentasie vir die lisensie te ry as bewys en daar is ʼn sterk saak as hulle jou sou beboet. Hy sê die departement behoort in die Staatskoerant te publiseer dat wanneer mense aansoek gedoen het vir ʼn lisensie, hulle met die kwitansie as bewys kan ry, “maar die departement is skynbaar net bekommerd oor hoeveel geld hulle gaan verloor.” Outa het al herhaaldelik aan Creecy geskryf en versoek dat die tydperk waarvoor ʼn lisensie geldig is, verleng moet word, maar het nog geen reaksie ontvang nie. Outa het reeds tydens Fikile Mbalula se ampstydperk gevra dat die geldigheidstydperk van lisensies van vyf na 10 jaar verleng word, nadat navorsing gewys het dit is internasionaal die beste praktyk. Die departement sleep hulle voete met ʼn besluit hieroor.