NOORDWESTER – LICHTENBURG – Oud-inwoners van Lichtenburg, Alf en Leonie Bekley se kleinseun laat tennisballe klap oor die wêreld heen.
Hy is gebore en het grootgeword op ‘n plaas buite Derby. Toe Joël Schwaerzler nog ‘n kleuter was, het die gesin Oostenryk toe geëmigreer. Joël, toe nog net 10-jaaroud, het saam met sy afrigter begin rondreis. Nou is Joël 17-jaaroud en reeds ‘n professionele tennisspeler wat opslae maak.
Tans woon hy in Vienna en het reeds ‘n lang lys prestasies agter sy naam. Joël beklee nommer drie op die wêreldranglys vir o/18’s. Sy hoofborge is Red Bull, asook Head, die tennisraketmakers. Hy het reeds ‘n paar toernooie ingepalm dié jaar.