NOORDWESTER – LICHTENBURG - Die twee padelbane by Lichtenburg Buiteklub is reeds sedert 16 Mei in gebruik. Die bane is tydens ‘n lintknipgeleentheid op 23 Mei, waarby NWK se bestuur en Lichtenburg Gholfklub se komitee betrokke was, amptelik in gebruik geneem.
Sedertdien het die bane se gewildheid week na week toegeneem. Daar het onder andere reeds ‘n padelkinderpartytjie en ‘n suksesvolle departementele spanboumiddag plaasgevind.
Die gemeenskap kan nou reeds opgewonde raak oor wat alles nog in die vooruitsig gestel word!
Laer- en hoërskoolkinders moet ook kennis neem dat hulle gedurende die skoolvakansie, dit wil sê vanaf 27 Junie tot
21 Julie (tussen 08:00 en 17:00) teen ‘n afslagprys van R100 per uur per baan kan speel. Rakette en balle is teen dieselfde huidige, billike pryse by die klub beskikbaar indien spelers nie hulle eie toerusting het nie. Die huidige speelfooie vir sowel lede as besoekers is tans baie billik.
Die komitee het daarom daaraan oorweging geskenk om die fooie met ingang van 1 Julie te verhoog, veral wat betref die besoekersfooie. Daar is gevolglik besluit om die fooie vir besoekers vanaf 1 Julie te verhoog na R280 per uur. Rakette en balle kan egter steeds teen dieselfde fooi van R30 per raket en R30 vir drie balle gehuur word. Daar is egter ook besluit om besoekers die geleentheid te gun om voor einde van Julie as lede aan te sluit vir ‘n uitsonderlike gunstige bedrag van R300 vir die res van die jaar (bereken teen R50 per maand vir ses maande), wat hulle in staat sal stel om dieselfde voordele te geniet as huidige lede. Veral gereelde spelers sal groot baat hierby vind.
Daar word hard gewerk om ‘n padelsakeliga aan die gang te kry en om in die proses soveel besighede as moontlik daarby te betrek. Meer besonderhede sal binnekort bekendgemaak word.
“Vir die gemeenskap, deur die gemeenskap.”