STELLALANDER-KATHU: Die Kathu-tak van AfriForum het onlangs twee noodwaterpunte in Lukinstraat, Olifantshoek, opgerig in reaksie op die gemeenskap se aanhoudende waterprobleme.
Hierdie inisiatief beoog om inwoners te ondersteun tydens die gereelde wateronderbrekings wat die dorp teister. Volgens Lize-Mari Smit, AfriForum se distrikskoördineerder vir die Karoo, is toegang tot skoon drinkwater nie net ’n noodsaaklikheid nie, maar ’n grondwetlike reg.
“Om mense van só ’n basiese mensereg te ontneem, is onaanvaarbaar.
Met hierdie noodwaterpunte wil ons verseker dat die gemeenskap nie in die steek gelaat word wanneer die plaaslike owerhede faal nie,” sê sy. Die ernstige watertoevoerprobleme in Olifantshoek het daartoe gelei dat talle huishoudings gereeld vir ure, soms dae, sonder water sit.
Artikel 27(1)(b) van die Grondwet van Suid-Afrika, asook die Waterdienste Wet 108 van 1997, beklemtoon die reg van elke burger tot voldoende en veilige water. AfriForum maan inwoners om water wat by die noodwaterpunte getap word, eers te kook voordat dit vir drinkdoeleindes of kosmaak gebruik word. Die Kathu-tak bevestig dat hulle sal voortgaan om die gemeenskap by te staan en praktiese oplossings te bied waar die munisipaliteit te kort skiet.