STELLALANDER-VRYBURG: AfriForum het onlangs ’n aanlyn petisie van stapel gestuur om inligting in te win oor die toestand van natuurreservate in staatsbesit en die bestuur daarvan.
Die petisie fokus op die gebrek aan onderhoud en bestuur wat plaasgevind het, en hoe dit die diere- en natuurlike hulpbronne in hierdie reservate negatief beïnvloed.
In November 2023 het die Molopo-natuurreservaat in Noordwes landwyd opslae gemaak toe dit aan die lig gekom het dat die staat se swak bestuur van die reservaat tot die dood van talle diere gelei het. Die infrastruktuur in die reservaat is nie opgegradeer of onderhoud nie, en die waterbronne het opgedroog. Dit het ’n kritieke situasie vir die diere veroorsaak, wat aan hul eie genade oorgelaat is.
Verskeie diere het langs waterkrippe en gronddamme, waar daar voorheen water was, gevrek. AfriForum het in 2024 verskeie skrywes aan die Tswaing Plaaslike Munisipaliteit gerig oor die toestand van die Henk Joubert-natuurreservaat, wat tussen Delareyville en Ottosdal geleë is. Hierdie reservaat is nie omhein nie, wat ’n groot gevaar vir motoriste veroorsaak, veral gedurende die aand. Talle diere word jaarliks deur motoriste doodgery, en daar is geen aandag gegee aan AfriForum se klagtes of versoeke nie. Die reservaat word verder nie behoorlik onderhou nie, wat tot die verlies van dierelewe lei. Jp Nel, AfriForum se distrikskoördineerder vir Stellaland, het sterk kritiek uitgespreek oor die staat se onvermoë om na hierdie reservate om te sien. “Hierdie tragedies is alles as gevolg van die staat se onvermoë om na die reservate onder hul bestuur om te sien. Dit is skokkend dat daar so min omgegee word vir hierdie diere, en indien dit so voortgaan, sal daar al hoe minder diere oor wees vir die nageslag,” het Nel gesê. Hy het die vraag gevra of mense oor 20 jaar steeds gemsbokke en koedoes in die reservate sal sien, of of die verantwoordelikheid vir die bewaring van hierdie diere op die landbousektor geplaas sal word. AfriForum het verder beklemtoon dat natuurreservate voorheen ‘n ideale ontspanningsplek vir mense was, maar dat dit nou ‘n stryd vir oorlewing vir die diere is. Nel het gesê, “Natuurreservate was eens ’n ideale ontspanningsplek vir mense wat bietjie uit die dorp wou wegbreek. Vandag is dit ’n stryd om oorlewing vir die diere wat in hierdie reservate voorkom.” AfriForum doen ’n dringende beroep op die gemeenskappe om die petisie te voltooi en die organisasie se webtuiste te dop te hou vir verdere inligting oor die veldtog. “Saam kan ons ’n verskil maak en die natuur vir die nageslag bewaar,” sê AfriForum.